top of page

Net in 'n oogwenk -

  • adelereyndersart
  • Sep 28
  • 15 min read

'n Gratis volledige korter liefdesverhaal geskryf deur Adele Reynders

Luister hier gratis na die Audiobook ook: https://youtu.be/YOc9S1eGYl0
Luister hier gratis na die Audiobook ook: https://youtu.be/YOc9S1eGYl0

Agtergrond: Waardeer wat jy het, terwyl dit met jou goedgaan, want alles kan in 'n oogwenk van jou af weggeneem word. Dit het Marja Bellini destyds op die harde manier uitgevind. Daarom sal daar nooit weer vir haar liefde wees nie.

 

Na ‘n ligte klop aan Marja Bellini se dakwoonsteldeur, stap Asjas Verdoorn in. Hy en Appel trap nie haar drumpel deur nie. Sy verkies dit so. Sy wil meesal alleen wees. Dan werk sy op haar beste. In stilte. Nie eens ‘n radio of musiek wat speel nie.

Maar vandag gee Marja nie om nie. Sy is eintlik al klaar met die skildery van die leeutrop waarvoor Asjas ‘n paar weke tevore gevra het. Maar sy kon nog nie afskeid neem daarvan nie. So af en toe het die skildery vir nog ‘n strepie of ‘n laaste kwashaal gevra. Nou is die tyd op. Die laaste oomblik daarmee het aangebreek. ‘n Weggee baba wat na ander ouers en ‘n nuwe huis moet gaan.

Omdat sy nooit kinders van haar eie gehad het nie, skenk sy geboorte aan haar skilderye. Pynlik en met liefde.   

Die man begin al van die deur se kant af uitroep. “Asemrowend, perfek. Soos altyd in ‘n klas van sy eie. Monumentaal groot! Presies wat die belegger soek.”

Marja staan terug om die skildery van die trop leeus uit Asjas se perspektief te beskou. Sy sou nou nie woorde soos asemrowend en perfek gebruik om haar eie werk mee te evalueer nie. Maar die skildery het beslis die potensiaal om impak te maak waar ookal iemand dit sou wou hang. 

Slegs die gesig van die maanhaarleeu is superrealisties. Daarna versmelt dit in buitelyne en vlakke, geheimsinnige skaduwees van bruine, gryse en oker tot silhouette en vorms in ‘n surrealistiese landskap en wolke waarin die res van die trop net met buitelyne herkenbaar is. Soos in die natuur waar nie alles met die eerste oogopslag sigbaar is nie. En iewers op die skildery, onverwags ‘n spatsel rooi. Die aarde bloei … soos wat sy al in haar seerkry lewe gebloei het.

So stort sy iets van haarself in elke stuk werk.

“Jy het dit weer gedoen. Die gesig van jou leeu herinner aan … Rembrandt van Rijn se Nagwag. Behalwe dat mens duidelik kan sien dit is ‘n leeu. En dit is ook nie so boring nie.”

“Rembrandt se Nagwag is alles behalwe vervelig!” raas Appel agter hom. “Maar onthou tog dat al die skilderye van die groot kunsgeeste van die Renaissance in die museums van Europa Mia se leermeesters was. Hulle en haar ouers Giovanni en Mercedes Belinni ...”

“Leermeesters?” Asjas se regterwenkbrou lig waarskuwend. “Solank jy nooit weer die woord namaaksels gebruik nie. Dit is degraderend.”

“Glad nie. Al die groot meesters soos Leonardo da Vinci, Michael Angelo, Buenorotti en Botecelli het duisende afskilderstudente gehad, terwyl hulle nog geleef het. Leerlinge wat met hulle eie doeke gestaan het en elke streep afgeskilder het wat die meester gemaak het. Selfs nou in die een en twintigste eeu, meer vierhonderd jaar later sit daar student voor skilderye in die museums om elke strepie en kwashaal van die skildery na te maak. Dit is die beste oefening vir enige kunstenaar.”

“Onse Mia het dit nie nodig nie. Sy is die beste in haar eie reg. Moet nie altyd haar verlede agter die bult gaan haal nie,” raas Asjas streng en draai na Marja: “Mia, ons kry vanaand ‘n belangrike gas. ‘n Kunskoper uit Kaapstad. En jy kuier saam.”

Asjas en Appel ken haar regte naam. Marja Bellini. Maar sy het daardie naam lankal afgelê. Dit was in elk geval die Verdoorns se voorstel dat sy dit doen. Destyds toe sy gevlug het… Hulle respekteer die keuse wat sy gemaak het. Dat sy nou Mia is en dat dit die naam is wat onderaan haar skilderye staan.

“Reg Mia, so teen seweuur. Moenie dat ons jou weer moet kom haal nie. Hier in Suid-Afrika en veral in Marlothpark hoef jy nie vir die wêreld weg te kruip nie.”

Sy kruip nie meer weg omdat sy bang is nie. Sy kruip weg want dit doen haar goed om nie gesien te word nie. Sy is die skim agter haar werke.

Maar nou wag Asjas en Appel vir ‘n antwoord. Gaan sy seweuur haar verskyning in hulle groot sitkamer en kuier area maak of gaan sy haar dakwoonstel se deur sluit en haarself teen die wêreld verskans.

“Net as jy een van jou ses gang maaltye kook, Asjas,” spot sy.

“En ek gaan, Soos altyd! My gourmet kooksels en goeie wyn,” gooi Asjas die lokaas uit en toe lig hy ‘n vinger. “Dan is dit ‘n belofte. En ek neem die skildery sommer nou saam.”

“Reg so. Maar die verf is nog nat. Hanteer versigtig.”

“Ja ja, soos altyd.” Hulle weet, daarom dra hulle saam daaraan. Versigtig by die hoeke.”     

Wanneer die manne teen die trappe afgaan, draai Marja om om haar kwasse in terpentyn te gaan sit. Sy sorg vir haar kwasse. Sy was hulle agterna met ‘n spesiale sjampoo en pak hulle op ‘n handdoek om droog te word.

Uiteindelik gun sy vir haarself ‘n koppie koppie. Goeie koffie, soos wat hule Italianers daarvan hou. Beker in die hand gaan sit sy in een van die gemaklike rottangstoele op die balkon dek, vanwaar sy kan uitkyk oor ‘n groot gedeelte van die ikoniese Krokodilrivier. Haar inspirasie. Haar eie lewensaar.

Vandag sien sy nie die mooi natuurskoon voor haar raak nie. Soos altyd neem gesprekke soos hierdie met Asjas en Appel haar terug na haar ouerhuis in Florence in Italië, waar sy vir baie jare deur haar ouers Giovanni en Mecedes Belinni geskool en opgelei is in die kuns van … namaaksels van die ou meesters.

In haar gedagtes is Marja weer twintig jaar oud. ‘n Besondere dag. Vir die eerste keer kies die groot kurator Alverdi Giovinazzi haar Geboorte van Venus, bo die werk van haar pa. 

“Sorry my ou vriend, maar jou dogter het beslis die potensiaal om ‘n beter te skilder as jy en vroulief saam. Miskien is sy die reïnkarnasie van Bottiveli homself. En Leonardo en Vermeer. Hierdie meisiekind het wat dit vat om groot geld te maak,” prys Alverdi haar, terwyl hy die geld in ‘n koevert aan Marja oorhandig.

Wanneer Alverdi vir die namaaksels betaal, is dit gewoonlik streng kontant om geen papierspoor agter te laat nie.

Alverdi se aantreklike seun en persoonlike regterhand Giano bly agter toe sy pa wegstap. Daar is iets aan die uitdrukking op sy gesig wat haar bekommerd laat vra.

“Wat nou? Hoekom lyk jy so omgekrap? Hou jy nie van my skildery nie.”

“Dit is nie jóú skildery nie. Dit is ‘n baie goeie namaaksel van Boticelli se werk. Ek hou net nie daarvan dat jy jou tyd mors en betrokke is by iets waaroor jy dalk nie beheer gaan hê nie,” antwoord hy na ‘n lang tergende stilte. “En ek is bly om te sien dat jy handskoene dra terwyl jy werk.”

“Dit was jou pa se opdrag…” antwoord sy uit die hoogte.

“Om redes wat ek nie graag vir jou wil onderstreep nie,” hap hy terug.

“Ek is nie dom nie. Dit is om spore dood te vee. Sodat niks kan terug verwys na my nie.”

‘n Omgekrapte kopknik. “Vir jou eie beskerming. Luister vandag na goeie raad. Dit is baie beter om liewer jou eie handtekening en identiteit te ontwikkel. Jy kan dit in die modern kunswêreld maak. Jy het soveel talent. Selfs al begin jy met portretstudies van mense hier rondom jou.”

“Portretstudies. Met selfoon kameras waar mensehonderde simpel foto’s van hulleself op Facebook kan sit. Daar is geen uitdaging aan nie.”

“Die uitdaging sal wees om dit ‘n unieke Marja Bellini portretstudie te maak. ‘n Styl wat geen kamera kan doen nie.”  

“Maar sal ek soveel geld maak?” Vies druk sy met haar hand op die koevert.

“Beslis nie. Dit is regtig jammer dat jy geld as jou afgod kies.”

“Sê hy wat bevoorreg genoeg was om sy eerste skreetjie as baba in een van die rykste Italiaanse te kon gee,” kap sy terug.

“Jammer dat jy so redeneer.” Hy trek sy skouers op. “En ek is nie noodwendig ondankbaar nie. Kuns is my eet, slaap en droom ook. Ek wil niks anders doen as om kuns te verkoop nie. Kuratorskap is in my bloed. Maar net ‘n laaste gedagte waaroor jy gerus kan nadink. Jy sal nooit weet hoe suksesvol jou eie naam kan wees, as jy nie probeer nie.”

Sy het nogal… daaroor begin dink in die weke wat volg. Maar daar is nie regtig tyd om aan haar eie maaksels te spandeer nie. Sy is nou in aanvraag en werk dag en nag.

‘n Maand later kom Giano weer saam toe sy pa nog van haar en haar ouers se skilderye kom haal. Hy raak vreeslik ongemaklik toe hy agterkom dat Marja hom stip dophou. Sy wil met hom praat. Alleen. Hy voel dit waarskynlik aan, want hy hang weer rond toe die ouer garde uitstap om te gaan vier.

Vir eers kyk hy net terug, sonder om ‘n oog te knip. Jimmel wat ‘n mooi mens, kom dit vir die soveelste keer by Marja op, toe ‘n minuut se sekondes verby marsjeer en hulle mekaar met die oë staan en meet.

Uiteindelik kan Giano dit nie meer hou nie. Hy vra spottend om die spanning te breek: “Hoekom gluur jy my so aan, Marja? Is daar roomys op my bolip?”

“Het jy alleen roomys ge-eet, sonder om vir my saam te bring?” trap sy hom uit. Sy kan mos nie vir hom sê dat hy vir haar die mooiste stukkie mansvleis is, wat nog die aarde bewandel het nie en dat sy haar soos altyd net weer aan hom vergaap nie.

Dat sy elke lyn van sy gesig bestudeer en wil seker maak dat sy weer waar elke haartjie op sy kop hom bevind nie.

“Skuus, nooit weer nie.” Hy vryf verlee oor sy mooi mond.

“Nee, man, daar is niks op jou bolip nie. Ek kyk na jou gesig, want ek skets en skilder jou portet. Ek is besig om jou raad te volg en oorweeg dit regtig om op te hou afskilder en onder my eie naam portretstudies te maak.”

Daarmee verdien sy die man se onverdeelde aandag. “Regtig? Mag ek sien hoe jou sketse lyk? Hoe jy my sien?”

So beïndruk is hy met haar werk, dat hy gereeld terugkom om weer daarna te kyk. Behalwe dat dit duidelik raak dat hy eintlik terugkom om meer van haar te sien. Hy is net so mal verlief op haar, as sy op hom. En sy is vir hom die mooiste meisie wat hy nog gesien het, erken hy ook op 'n stadium.

Maar toe Marja hom vra om sonder sy klere vir haar te poseer, keer hy verbete. “No no. Jy weet nie wat jy van my vra nie… En jammer, ek gaan nie naak op ‘n doek in iemand anders se woon of slaapkamer hang nie.”

“Dit is kuns, Giano.”

“’n Pin up poster? Nee dankie. Maar vir jou alleen, miskien eendag… My liewe Marja.”  

Hulle eerste date uiteindelik op haar een en twintigste verjaarsdag is vir roomys. 

Giano vou sy hand oor hare. “Dink jy nie dit is tyd vir jou om vlerke te sprei nie. Jy is mondig. Kom saam met my Parys toe. Ek droom van ‘n klein kunsgallery naby die Mont Matre. Ons twee sal nogal aard tussen die boheme en kunsgebroedsels wat daar saamkoek.”

“Ek aard nie regtig tussen ander mense nie,” keer sy.

“Dan is jy my soort meisie.” Hy buk vooroor om haar op die mond  te soen. Daarna het skep hy roomys met sy lepel en hou dit vir haar om af te eet. Haar bakkie is al vergete leeg.

En so sit hulle daar in die outydse roomyswinkeltjie in Florence, met oë en bene inmekaar gestrengel. Later liggame in haar kamer in haar ouerhuis. Haar eerste keer. Giano met genoeg vorige ervaring om dit vir haar onvergeetlik te maak. En 'n goue hangertjie om haar hieraan en aan haar verjaarsdag te herinner.

Meer oortuiging as dit het sy nie nodig gehad om met haar ouers te praat en haar goedjies te pak nie. Buitendien kan hulle nie vir ‘n beter skoonseun vra as Giano nie. Dit is nou as die twee eendag tot trou kom nie.

 

Parys is idillies en selfs mooier as enigiets wat Marja tot nog toe op google gesien het. Hulle woonstelletjie ouwêrelds en boheems.

Behalwe as malverliefdes in ‘n romantiese stad, is hulle suksesvol. Sy met haar portretstudies en sketse van vreemde mense wat verbystap, geboue soos wat sy dit sien. Selfs blomme. Wie het nou ooit gedink dat sy haar lewe met malvas en tulpe wil maak. Nie sy nie.

Maar Giano se gallerytjie lok mense van die straat af in. Hy pak silvereye op die sypaadjieen mense kyk nie net nah om nie. Hulle kyk ook na die pragtige verliefde paartjie aan wie die plek behoort.

Vakansies terug in Italië is van korte duur, want hulle leef vir die ure, dae, maande, terug in Parys waar sy en Giano net opmekaar aangewese is. Waar hulle aande omkuier met wyn en anti pasta. Soms Franse gourmet etes vir hulleself aanmekaar slaan in ‘n kombuisie skaars groot genoeg vir een. Maar as jy so verlief is, sal jy in ‘n klerekas kan woon en besluit dit is ruim.


En toe, daardie aaklige dag …

Marja staan op om haar koppie in die wasbak te gaan sit. 

En om die stapels sketse wat sy daardie tyd van die mooiste man op aarde gemaak het uit haar portfolio te haal. Daardie eenkeer wat hy wel naak vir haar geposeer het. Goed noem dit eerder een skildery. Want dit het weke geneem om te maak, want sodra Giano se klere van sy lyf af is, het hare ook gewaai. Sy voel weer die warmte in haar, as sy aan daardie sessies dink. Daar in Parys.

Giano het ook nie ander mense in sy lewe nodig gehad nie. Net sy. Hulle twee saam.

Die sketse, daardie skildery en ‘n paar selfoonfoto’s van hulle saam, is al wat sy van Giano oor het.

Sy wil nie daaraan dink nie. Maar wanneer sy aan die portefeulje raak, onthou sy altyd daardie selfoonoproep van Giano se pa af. So helder, asof dit gister gebeur het. Verpletterende nuus dat Marja se ouers in hulle huis vermoor is.

En toe kom dit uit. Dit was in die koerante op die televisie. In elke land denkbaar. Die Bellini’s was deel van die grootste kunsvervalsingskandale in Europa. Oorspronklike skilderye wat uit museums verdwyn het en namaaksels wat in hul plek opgehang is. Daar word nou gesoek na hulle enigste dogter Marja. Sou sy haar voete oor die Italiaanse grens sit, klap daar waarskynlik ‘n tronksel agter haar toe.

As hulle net die nodige bewyse teen haar kon vind.

“Ek is so verskriklik jammer oor jou ouers. Maar jy sal nie begrafnis toe kan gaan nie. Ek moet alleen gaan om te hoor hoeveel my pa met hulle moord te doen gehad het. Ek hoop en glo glad nie. Maar as ek uitvind dat hy dit gereël of beplan het, sien hulle my nooit weer nie.” Giano gooi net die noodsaaklikste in ‘n reissak. Hy is nie van plan om lank weg te bly nie. “Jy wag hier tot ek jou kom haal. As dit nodig is, sal ons dal kook ‘n ander land moet vind om in te woon.”

Iets wat sy nie eens oorweeg het in daardie stadium nie.

Maar Giano sou nooit weer terugkom Parys toe nie. Hy en sy pa sterf daardie selfde aand saam op die vloer van hulle luukse villa se sitkamer. Teregstellingstyl, skote in die agterkop.

Halsoorkop en in rou trane en hartseer pak Marja ‘n kleretas met noodsaaklikhede, gooi haar kunssak met sy sketse en skildery oor haar regterskouer. Sy druk die kontantgeld wat sy in Parys met haar werk verdien het, in haar jas se sak en die geld wat Giano onder sy klere gehou het vir hulle om van te leef. ‘n Uur later klim sy op ‘n trein, op pad na… wie weet waar?

‘n Trein wat haar twee dae later in Holland uitspoeg. Iemand beduie vir haar na die gastehuis van Katariena Verdoorn, waar sy haarself vir twee maande in ‘n goedkoop dakkamer toesluit en nooit ophou huil nie.

“Dit is jy,” besluit die tannie toe Marja eendag blou van die honger agter die reuk van patatfriet en wafels by die kombuis inloer. “Jy is Marja Belinni, die Italianertjie wat deur die polisie gesoek word in verband met fraud. Daar is ‘n geldprys op jou kop.”

Emosievoos en leeggebloei knik sy net. “Dit is reg, bel maar die polisie. Ek sal nie weghardloop nie. Ek kan nie meer nie. Ek gee nie meer om nie. Daar is niks meer om voor aan te gaan nie.”

“Nee so maklik gaan jy nie hiervan afkom nie.” Katariena Verdoorn het ander planne met haar. “As jy so goed is as wat hulle beweer jy is, moet jy vir my iets mooi teen die groot muur in die portaal skilder. Jy kan verniet bly en ek sal vir jou kos gee.”

“Wat van Rembrandt se Nagwag?” Van spottery is die kerke leeg en tronke vol. Maar ten minste voel sy veilig in die gastehuis waar iemand nie polisie toe hardloop vir die losprys nie.  

  Dit is daar waar Appel haar op een van sy kuiers in Holland ontdek het. Appel is Antie Katariena Verdoorn se seun wat met Asjas getroud is en permanent in Marlothpark, Mpumalanga in Suid-Afrika bly en wat self ‘n groot kunsliefhebber is, maar nog nooit ‘n kwas in sy hand gehou het nie. Hy hou van beelde en skilderasies en mooi keramiek. En handgemaakte meubels.

En Afrika se wilde diere en die ongerepte natuurskoon van daar.  

“Kom saam met my Suid-Afrika toe. Marlothpark is pragtig. Ek en Asjas het ‘n groot huis daar, met ‘n aparte dakkamer woonstel. As jy kan diere skilder, soos wat jy mense skilder, sal ons jou skilderye daar in Afrika verkoop.”

 “Maar vir eers het sy ‘n paspoort nodig en ‘n ander naam. Wat van Mia Verdoorn?” Net daar bieg Antie Katariena oor haar eie verlede as Russiese vlugteling. As Yekatarina Schmekowa. En sy ken nou nog mense wat paspoorte en identiteite kan … regsien.

Sy is nou Katariena se lankverlore dogter en Asjas se eie bloedsuster waarvan hy eers onlangs uitgevind het. Moenie vrae vra nie. Oor seker goed praat mens nie.

 

In die negentien jaar wat sy in Suid-Afrika bly, het Marja darem intussen weer geleer om te glimlag. Haar Mia Verdoorn skilderye hang in byna elke natuurliefhebber en kunsversamelaars se huise in Suid-Afrika, danksy haar agente Asjas en Appel Verdoorn wat haar oral bemark. Want sy het gevra om uit die kollig te bly.

Sy is ‘n suksesvolle gelukkige alleenloper kluisenaar, want een ding is seker. Sy sal nooit weer liefhê nie. Niemand sal ooit Giano Giovinazzi se plek in haar hart en lewe kan vul nie.

Haar hare is nog nat na die stort, toe Asjas aan haar deur kom klop en daarna oopstoot en instap.

“Ons patron de Arts is hier. Is jy reg?” Hy kyk haar krities op en af. “A nee a, wat van ‘n vegie lipstiffie. En tem daardie boskaas van jou met ‘n kammetjie. En kom… Vervlaks.”

 

Marja steur haar nie veel aan die man wat met sy rug na haar toe staan toe sy die sitkamer instap nie. Die leeuskildery hou hom in elk geval gevange.

Eers toe sy met ‘n glas rooiwyn in haar hand staan, besef sy dat daar iets vaagweg bekend aan sy postuur is.

Iets pynlik en sinkend bekend.

Uiteindelik draai hy om…

Giano Giovinazzi? Dit is onmoontlik. Die man is dood. Die aarde rondom haar begin swem. Sy sit haar glas net betyds op die een punt van die lang eetkamertafel neer en vind ‘n stoel om op neer te syg.

“Marja Belinni?” Hy skud sy kop stadig van kant tot kant. “Ek het so gehoop … Gebid. Geglo dat dit dalk jy is. Maar die manne hou vol dat jy Mia Verdoorn is. Hierdie man se suster.” Hulle beskerm jou vreeslik.

Sy trek haar asem diep in, blaas dit stadig uit. “Nee, jy is die een wat …”

“Vir dood agtergelaat is. Ons moes die sindikaat dit laat glo, dat ek saam met my pa dood is. Want dit was nie hy wat jou mense laat teregstel het nie. Ons was self gemerk. Maar jy my liefste Marja? Hoe het jy daar uitgekom?”

Alles was nog net so in ons woonstel. Jou selfoon, jou kunsmateriaal. Die polisie het geglo dat jy ontvoer en uiteindelik vermoor is. Dat die sindikaat iewers van jou liggaam ontslae geraak het, waar niemand jou liggaam kon vind nie. Ek was stukkend. Daar was niks meer wat my daar gehou het nie.”

Hy kug in sy vuis, toe sy stem in sy keel stol. Sy donker oë swem.

Uiteindelik praat hy weer: “In my onderbewussyn was daar steeds ‘n greintjie hoop. Toe sien ek ‘n natuurleweskilderye in ‘n interieurtydskrif in ‘n huis in Kaapstad. Geteken Mia Verdoorn. Maar Marja Belinni se styl, aura en siel staan dwarsoor dit geskryf. Dit het gemaak dat ek ‘n huis in Kaapstad koop. Ek wou Mia Verdoorn ten alle koste ontmoet en sien. Maar Mia was ‘n altyd ontwykende skim.”

“My ma het jou spore mooi doodgevee. Toe kontak hy ons uiteindelik en ons wil nie vir hom die waarheid vertel nie. Gedog hy is 'n spaai of ding,” vervolg Asjas toe Giano nie verder kan praat nie. “Maar toe deel hy sy liefdesverhaal met ons. En ek en Appel moes dit stilhou, want ons was bang jy slaan op die vlug as jy hoor ‘n Suid Afrikaanse Italianer soek naarstiglik na jou.”

Appel lig sy glas. “En reken nou net, so bring die universe julle weer bymekaar, negentien lange jare later. Of was dit dalk en romantiese Asjas? Maar Giano, jy vat haar nie terug Italië toe nie.”

“O nee, glad nie. Ek was jare laas in Italië. Ek woon tussen New York, Vancouver en Kaapstad. Ek het ook ‘n identiteitsverandering ondergaan. Maar ek wil afskaal en minder maak, my gallerye verkoop daar. Ek is bereid om alles te laat gaan, as ek ‘n oulike huis hier in Marlothpark raakloop.”

 

Negentien jaar is ‘n lang tyd. Verbasend hoe alles wat in negentien jaar gebeur het, wegval om alles wat sy en Giano vir mekaar gevoel het weer in hulle wakker te maak. Vir hulle is die uitsig oor die Krokodilrivier en bos rondom hulle nou duisend keer meer romanties, as selfs die betonoerwoud in Parys.

Hulle huis is twee strate van die Verdoorns s’n af. En as daar nie leeuspore in die grondpad tussen hulle en daar getrap is nie, loop hulle heen en weer na mekaar toe. Giano het net sy gallery in Kaapstad behou, daar waar Mia se skilderye soms hang om deur versamelaars en natuurlewe bewonderaars opgeraap te word.  

En hulle koester elke dag wat hulle vir mekaar gegun word. Want alles … en enigiets kan in ‘n oogwenk verander en van jou weggeneem word. Dit het hulle met hartseer en leedwese gesien.

Einde.

 
 
 

Comments


bottom of page