Tilja se reis - Shirley Robinson (Adele Reynders)
- adelereyndersart
- Sep 23
- 53 min read

Jou skakel as jy dalk na 'n gratis audiobook in Afrikaans wil luister.
Lees jy eerder as om na boeke te luister. Hier onder is die volle e-boek en jy lees nou ook gratis.
Tilja was nog nog nooit tevore getroud nie. Nou is sy verlief op die dominee en hy wil haar graag beter leer ken, maar sy is so vasgevang in haar huislike omstandighede, dat sy haarself nie kan draai nie. En haar pa dink dominee Stef is eintlik sý beste maatjie.
Tilja se reis – Shirley Robinson /Adele Reynders
Hoofstuk 1
"Pa, dink pa nie dit is tyd vir julle drietjies om maar te gaan nie? Nina sê daar is nou weer 'n dubbelplekkie met ‘n enkelkamer net oorkant die gang oop in haar tehuis van versorging." Tilja sit die vuil grootmensdoek in 'n tweede plastieksak en knoop toe. "En Girly is nou sewe en vyftig. Pa het gesê julle gaan haar in 'n plekkie sit sodra sy vyftig is. Nou is dit al sewe jaar later. Dit sal goed wees as julle almal saam gaan, dat dit nie voel asof sy weggeooi word nie."
"My kind." As Pa eers sy ken so koppig uitstoot, dan hoef sy nie eers te luister nie. "Die eenvoudige waarheid is, dat ék nog nie gereed is daarvoor nie. Weet jy wat kós daardie plekke waarin jy ons almal wil stop? Waar gaan jy geld kry om ons daar te laat toesluit. En waar gaan ek met al my goed heen?"
"Pa, dit is nie toesluit nie. Dit is beter versorging as wat ek kan gee. Hierdie huis en al julle oortollige besittings kan daaroor betaal. Pryse van groot ou huise in Waterkloof behaal astronomiese pryse."
"Dan het jy sowaar al jou voelers uitgesteek. Wag tot ek eendag dood is, dan word alles wat hier is joune." Pa gee haar sy skoolhoof kyk. Hy hou al vir drie-en-dertig jaar nie meer skool nie, maar sy 'sink-in-die-aarde, kind' kyk sal nooit weggaan nie. En die wag-tot-ek-dood-is storie hoor sy al van sy tagtigste verjaarsdag af. Sy broer was 'n maand gelede ses-en-negentig en neuk steeds die versorgers by die oord vanuit sy rolstoel op. Die familie se mense word oud!
"Met vruggebruik vir Ma en op voorwaarde dat jy haar en Girly sal bly versorg," voeg haar pa soos altyd by. "Onthou, dit kon jy gewees het wat by die kar se ruit uitgeslinger is, daardie dag toe die lorrie ons reekgery het. Dink jy Girly sou jou in die steek gelaat het as ditjy was en die rolle was omgeruil."
Dit was voor kinders in karstoeltjies en met wie weet wat nog agter in karre vasgemaak is. Nie dat sy en Girly hulleself sommer sou laat instrap het nie. Hulle was besige klein dogtertjies wat die helfte van die tyd halfpad by die vensters van die karre uitgehang het.
Toe gebeur die ongeluk en Girlie is vir ses maande bewusteloos en almal bid dat sy tog net weer haar oë moet oopmaak, maak nie saak hoe en wat verder nie.
Daarna kom net ‘n deel van Girlie huis toe in ‘n rolstoel en sy sou nooit skoolgaan. Sy kon nie meer praat nie. Sy moes van voor af leer om ‘n lepel vas te hou om te eet en sy kon nie meer op haar eie toilet toe gaan nie.
Maar pa sê vir almal. Dit gaan goed. Girly eet. Sy het altyd gesond geëet. Na die ongeluk weer. Nou nog meer.
En dan moet Tilja doeke ruil, elke dag. Drie keer per dag.
Ma eet nie meer so vreeslik baie nie. Waar Girly ongeveer dertig kilogram opgetel het oor die laaste tien jaar, het Ma soveel verloor vandat sy siek geword het. Dit help, want Tilja is nie die grootste en sterkste vrou van alle tye nie. En ma was een van die groter en sterker vroue… van alle tye. Pa ook. Hulle is groot mense.
Tilja voel asof sy die einde van haar pad bereik het. Vandag praat sy die ding klaar.
"Pa, ek kán nie meer nie. Verkoop die huis en gebruik die geld vir julle versorging. Die plek is afbetaal. Elke sent kan help om vir julle verblyf te betaal." Sy is moeg en haar rug is seer. En sy sien elke dag hoe haar eie ou spaargeldjies en haar beleggings krimp, want sy betaal die huishulp Mara uit haar eie sak om drie keer 'n week te kom help in die huis en om vir Ma en Girly te help bad. Want die huis het nie ‘n stort nie.
"Moet ek vandag hoor dat jy bereid is om jou eie vlees en bloed vir die wolwe te gooi?" Pa is hoog rooi. Miskien moet sy hom dryf totdat hy 'n hartaanval kry van ontsteltenis. Sy weet van mense wat are bars van woede.
"Pa, ek en Mara is nie verpleegsters nie," verweer Tilja haarself egter. "Daar is mense in tehuise wat opgelei is om doeke te ruil en bedsere te versorg. Kan ons nie ten minste net vir Girly en vir Ma laat gaan nie?"
"Met watter geld?" Op drie-en-negentig is haar pa meer hardkoppig as ooit. En met haar vyf en vyftigste verjaarsdag om die draai, raak Tilja by die dag meer gefrustreerd en moedeloser. Sy sien immers elke dag hoe haar eie bietjie lus vir die lewe ook voor haar verdamp en wegraak.
"Die Pierneef en ander skilderye Pa ..." antwoord sy byna asemloos.
"Oor my dooie liggaam." Sy blou oë blits. "Mathilda, raak aan een van my skilderye voordat ek die dag weg is en jy sit op straat."
"Sal Pa dít aan jóú eie vlees en bloed doen?" Nog nooit tevore het Tilja so uitdagend en so volhardend met haar pa gepraat nie, maar sy is so moeg. As sy gisteraand twee ure altesame geslaap het, is dit baie. Soos wat sy vanoggend voel, pleeg sy 'n gesinsmoord en klim daarna op die vliegtuig Praag toe. Daar sal sy vir maande in die menigte kan verdwyn sonder om opgespoor te word.
Ou geboue, lieflike operas. Die groot rivier.
"Dit is my plig om na hulle om te sien tot ek die dag my kop neerlê," dreun haar pa se stem haar terug na die werklikheid.
"Die ding is Pa, dit is nie Pa wat na hulle omsien nie. Dit is ek. Ek sorg vir julle al drie."
Pa is ‘n oomblik verstom. Hy wil terugpraat, harder as sy, dan wen hy die bekgeveg. Maar hy weet sy is reg daarom verander hy sy deuntjie. "Mara kom darem ook soms help."
"Drie keer ‘n week Pa en met wie se geld word sy betaal? My spaargeldjies. Pa soek haar mos nie hier nie. maar ons het haar nodig. Regtig!"
"Ons het haar nie nodig nie. Ons is nie lui nie, is ons? En ek kyk agter myself." Asof hy self die eiers wat op sy bord is in die pan gesit en geroer het en die ketel aangeskakel het om sy koffie te maak. Asof hy al ooit ‘n eier gebak het! Asof hy die panne en borde was as Tilja daarna die tafel afdek. "En jy sal geseënd wees Tilly. Jy sal dubbel geseënd wees. Hierdie huis en alles word jou en jou suster s'n wanneer ek en ma weg is."
“En ek word oor drie maande vyf en vyftig. Vir vyf jaar al het ek my werk gelos om vir pa en ma met Girly te help. Toe kry Ma beroerte en ek moet háár ook versorg. En Pa wat Pa se voet gebreek het en nou swaar loop..." Sy kon seker bygevoeg het dat hy nie altyd betyds by die toilet uitkom nie en dan is dit maar weer sy wat moet skoonmaak.
"Dit is tydelik my kind. Een van die dae gooi ek die ou loopding weg en dan gaan dit weer makliker met die inkope doen."
Inkopies doen! Spaar haar dit. Dit neem ure. Stadig op en af in die gange. Besluiteloos oor elke blikkie en pakkie. Pa dra die debietkaart waarmee hulle gaan kos koop en sy pinnommer is 'n diep geheim. Behalwe dat hy nou die dag vergeet het, toe loer hy op 'n papiertjie in sy identiteitsboekie. Sy kán dit kry as sy wil, maar sy oorweeg dit nie eens om te loer en geld te trek sonder sy toestemming nie. Sy koop buitendien dikwels kos en ander goedjies uit haar eie wegkrimpende spaargeldjie as sy vir Mara busstop toe vat.
Dit is nie dat Tilja bitter is nie. Vanoggend is sy net ekstra moeg, nadat sy in haar twee ure slaap weer van pragtige ou stede gedroom het. Geboue met dik klipmure en iemand wat vriendelik waai en haar welkom heet.
"My lewe gaan verby, Pa. Ek wil 'n bietjie gaan toer. Europa sien. Veral Italië. En Tsjeg en Hongarye. Ek wil gaan blomme kyk in die Karoo, weer die Wildtuin sien. Namibië..."
"Til, nou wat van my? Ek is drie-en-negentig en was nog nooit in Hongarye nie. Ek wil ook weer Wildtuin toe gaan en in Namibië gaan toer."
"Nou kom ons gaan Pa. Ons twee saam. Kom ons kry verpleegsters vir Ma en Grirlie en gaan toer vir twee wonderlike weke in Tsjeg of Hongarye," roep Tilja opgewonde uit. "Of kom ons gaan net weer vir ‘n paar dae Wildtuin toe Pa, ek en jy. Mara kan kom inbly."
"Mara inbly. Vreemdes in ons huis en as ons terugkom is die plek leeggedra."
"Mara is nie vreemd nie, Pa. Sy werk al vyf jaar hier by ons en sy het nog niks gevat wat ek nie vir jaar gegee het nie."
"Nee, ek weet darem nie, Til," sug Pa nadat hy sowaar 'n oomblik nagedink het. "Nee, my kind. Ons plig is hier, by ons mense wat ons nodig het. En dit sal darem nie reg wees as ons alleen gaan vakansie hou en ons los die res van ons gesin by die huis nie."
En daarmee is die saak wat hom aanbetref afgehandel.
"Nee, seker nie," moet Tilja ook maar toegee. Haar gewete sal haar seker nooit met rus laat as sy ‘n leeuwelpie in die Wildtuin sien speel en sy weet haar suster kan dit nie ook geniet nie.
Niks wat sy kán of wil sê gaan weer 'n redenasie uitlok nie. Nie vandag nie. Hierna het haar pa klaar gepraat.
Tilja bring die skinkbord met pille nader. Daar is ses houers met vakkies, Maandag tot Sondag. Oggend, middag en aand. Twee elk vir Pa, Ma en Girly. Niks vir Tilja. Sy drink nie pille nie. Gaan sien nie eens ‘n dokter nie.
Miskien moet sy ‘n sak sout in kookwater oplos en dit drink, hoop dat sy ook 'n beroerte kry. Een wat haar vir altyd uit hierdie tronk haal en wegneem na groen weivelde en waters waar daar rus is...
Maar dit is nie 'n opsie nie. Wat as sy soos Ma in 'n wielstoel opeindig en mense nodig het om na haar elke behoefte vir haar te moet sorg? Sy lees weer die strokies in die boksies, voordat sy dit weggooi. Tussen hierdie baie pille behoort daar 'n kombinasie te wees, wat iemand se dood kan veroorsaak. Almal is immers een dood skuldig. Of dit nou 'n jaar vroeër of 'n jaar later is, wat maak dit saak ...
Hoofstuk 2
Tilja is so moedeloos. Sy oorweeg dit om weg te loop en net te verdwyn. Of om haarself te dood. Of om haar gesinslede een vir een die saligheid in te help…
As sy moet kies wie van hulle vier eerste moet gaan, is dit natuurlik sy self. Maar dan is selfdood so bietjie van ‘n gruwel in die goeie Vader daar bo se oë. Behalwe dat sy heilig oortuig is daarvan dat Hy beslis verstaan hoekom iemand so desperaat is dat hulle so iets doen en die arme slagoffer semmer self met oop arms deur die poorte help.
As sy daar Bo kom sal sy buitendien nie meer lus wees om gawe en vreemde plekke te sien nie, want sy is seker dit is ingesluit by die packet van doodgaan. Maar haar gewete sal haar pla. Selfs daar, sy is seker daarvan. Sy sal dink aan die ander drie wat sy hier onder agtergelaat het.
Dalk moet sy ‘n tweede opsie van gesinmoord kies.
Girly as eerste keuse kan nogal werk. Sy weet dat Girly dankbaar sal wees om uit haar rolstoel en liggaam verlos te wees, om weer te kan hardloop. Dalk selfs te kan vlieg! Die lewe op aarde is nie die alfa en omega nie. Hier is ons beperk, weet ons beperk.
En dan vir haarself! Sal dit nie lekker wees om net een nag weer te kan deurslaap sonder dat sy drie of vier keer in die nag gillend deur haar suster wakker gemaak word nie. Veral sal dit lekker wees om uiteindelik in haar eie kamer te kan gaan slaap. ‘n Grootmenskamer in sagte wit en grys kleure.
Nie meer in ‘n helder pienk dogtertjiekamer met honderd poppe in nie.
Dan sal sy aanskuif na Ma toe. Ma wat dikwels in woedebuie beduie dat sy nie eintlik meer deel van hierdie wêreld met sy ellende wil wees nie? Maar as Ma gaan, sal dit haar pa se hart breek. Hulle was altyd daar vir mekaar. Die ideal sal wees as Pa en Ma kort na mekaar gaan.
Maar helaas, Pa is nie 'n opsie nie. Hy wíl nog leef. Hy vertel vir almal hoe sy foto op sy honderdste verjaarsdag op die voorblad van die koerant gaan pryk.
Honderd en nog kapabel en in sy eie plek. ‘n Koek met honderd kersies. Nie een minder nie.
Dit is duidelik. Tilja sal nie haar pa die ewigheid kan inhelp voordat hy nie honderd is nie.
Dan sal sy wat Tilja is maar alleen gaan.
Die kerk en maatskaplike werkers moet dan maar oor die res van haar gesin sorg. Die kerk…
Wat die aantreklike dominee Stef van der Walt insluit. Die man met die mooi sagte donker oë. Wat waarskynlik baie goed verstaan hoe dit voel om jou geliefdes te sien agteruitgaan. Wie se vrou drie jaar gelede oorlede is aan kanker. Wat ook self na haar omgesien het tot sy haar laaste asem uitgeblaas het.
Met die hulp van vyftigduisend gemeentelede…
Ja dit help as daar ander gewilliges is wat ook kan help kyk.
Sondagoggend en Tilja sit in die kerk. Pa gee haar eenmaal ‘n maand af om kerk toe te gaan. Sy kyk op na die aantreklike dominee Stef van Staden op die preekstoel, maar haar gedagtes is vanoggend elders.
Sy is besig om haar uittrede uit die lewe te beplan. Hierdie week nog gaan sy haarself uit die situasie by die huis wikkel. En daar is net een manier waarop dit gaan werk. Sy moet haarself uit haar lyf ook kry.
Daar is opsies. Pa se rewolwer in die kluis in die studeerkamer. Maar dit is lelik en traumaties. Sy kan haarself hang, aan die boom waar haar en Girly se swaai vyftig jaar gelede vasgemaak is en nooit weer gebruik is nie. Dalk sommer nog aan een van die toue. Maar met haar geluk breek die ding en sy land op haar stuitjie. En dan sal sy nogal graag wil sien hoe sy die res van die gesin moet optel of omdraai.
Sy kom weer tot die gevolgtrekking dat die beste opsie sal wees om pille te drink. As sy drie van elke ander lid van die gesin se slaappille steel en een aand saam met twee van Girly se Stopains drink? Dalk kan sy nog 'n pakkie sterk hoofpynpille ook by die apteek by koop om seker te maak dat haar aand se versnappering werklik dodelik is.
Alkohol daarbý. Maar dit moet nie iets wees wat haar naar maak nie. Dan kots sy alles uit en faal die hele plan nie.
“Kom drink gerus saam tee na die diens,” nooi dominee Stef van die preekstoel af. Praat hy met haar? Wonder Tilja, toe sy sien dat hy reguit vir haar staan en kyk.
Sy skud haar kop in ‘n nee. Sy kan tog nie nog ‘n tien minute van haar gesin se sorgtyd net vir haarself steel nie. Verbeel sy haar of gly daar ‘n skaduwee oor die man op die preekstoel se gesig. Sy sal nie weer opkyk nie. Net handsak en boeke bymekaarmaak. ‘n Geldjie vir kollekte by die deure en dan moet sy hier uit. Op ‘n drafstap terug huis toe. Sy het nie met die kar gekom nie. Die kerk is mos om die draai van hulle huis af. Sy moet in elk geval gaan kook. Die hoenderporsies het sy al voor kerk in die oond gedruk. Met aartappels daarby.
Nou gaan sy pampoen, bone en kool met ‘n kaassous maak. Dit is Sondagmiddag kos in hulle huis.
Vrugteslaai uit ‘n blikkie en roomys na die tyd. Die minste moeite. En dan, liewe saligheid, asseblief tien minute se slaap.
"Hoe lyk die pille?" wil pa belangstellend Maandagoggend weet.
"Ons sal een of ander tyd moet aanvul. Daar is nog net ses dae se voorraad oor,” lig Tilja hom sonder enige entoesiasme in.
Maar hy raak opgewonde. Dit is ‘n uitstappie om na uit te sien. "Dan moet ons nog vanoggend apteek toe gaan."
"Nee Pa, dit is nog nie so dringend nie." Sy wonder of hy gesien het hoe sy twee van elkeen van húlle se pille in háár hemp se sak gesit het.
Nee, waarskynlik nie. Hy sou dadelik iets daaroor gesê het. Haar onbevoeg verklaar het, as pillekaptein. Nee, dit is net ‘n grappie in haar eie kop. Hy sou dit nie gesien het nie, daarvoor is sy aandag nou weer by die krieket voor hom op die TV skerm.
Wêreldbeker krieket. Groot stories! Dit vertel pa vir iemand wat net daarna bel. Sy selfoon lê daar by sy regterhand. Hy jaag Tilja met die stofsuier uit die TV kamer. Sy kan elders gaan stofsuig as dit haar behaag. Hulle drie is besig om krieket te kyk. Hy, Ma en Girlie.
En hy praat nog ‘n paar woorde met wie ookal gebel het. Toe sit hy die foon weer neer.
“Dit was dominee Stef wat gebel het,” roep Pa, asof Tilja sou belangstel om te weet. Eintlik sê hy dit waarskynlik net omdat Ma vir vyftig jaar sou vra. “Wie het gebel, Pappa?”
Dan sou hy antwoord: “Dominee Stef, Mamma.”
Nou vra Ma nie en Tilja stel nie belang nie. Die dat hy daarna vir homself sê: “Dominee Stef van Staden kom so bietjie later oor om saam met on na die res van die krieket te kyk. Het glo ‘n pak biltong by iemand present gekry en hy bring dit saam.”
Toe roep hy hard: “Tilja, dominee Stef sê jy moenie moeite doen met kos nie. Hy haal sommer ‘n bak lasagne uit sy vrieskas. Jy weet mos hoe dra die vroumense van die gemeente goed agter hom aan sedert mevrou oorlede is."
Sy weet ja! En dan dra hy daarvan hiernatoe aan en sê sy moet nie kos maak nie. Hy bring kos. Dan kom kuier hy by haar pa.
Dan drink hulle sjerrie saam en hy skink vir haar wat Tilja is ook ‘n glasie vol, tot haar pa se ergernis. Die kinders hoort in die speelkamer, of moet gaan slaap as die son sak, want hy en sy buddy kuier mos saam. Daar is nie plek vir Tilja in hy en Stef se speelgroep nie, al is Stef ‘n jaar ouer as sy. En ‘n wewenaar.
"Dit is nou gaaf van hom," antwoord Tilja maar net en dek tafel.
"Lekker dat die man ook belangstel in goed wat rondom hom op die aarde aangaan. ‘n Mense mens, die ou dominee Stef.”
Ou dominee Stef. Die man is nog nie eens ses en vyftig nie, maar vir haar pa is die man sý pertier. Sy ou maat, jy weet. Die dat Tilja haarself dan maar meesal skaars maak na ete en gaan inkruip.
En ook nie lank daarna nie, dan ry die man gewoonlik weer.
Dominee Stef van Staden… As sy ooit in haar lewe ‘n keuse gehad het om iemand se vrou te wees, sou dit nogal iemand soos hy kon wees. Dit is die ander rede hoekom sy haarself dan lief suit die voete maak. Nooit in sy lewe mag hy weet dat sy stilletjies oor hom droom nie.
Buitendien, die man treur waarskynlik nog oor sy pragtige en nimlike vrou vir wie die hele gemeente lief was.
Tog voel sy ‘n fladdering in haar borskas toe hy tien minute later die voordeurklokkie lui en sy die een is wat moet oopmaak.
As sy nie beplan het om binnekort dood te wees nie, sou dit seker vir haar selfbeeld gehelp het as sy net so vegie lipstiffie aan haar lippe gesit het.
Sy kan amper vir haarself lag. As daar ‘n kompetisie in die gemeente was oor wie die volgende mevrou dominee gaan wees, het sy in elk geval nie ‘n kans gestaan nie. Iemand wat mevrou dominee wil word, moet darem verstaan hoe die huwelik werk en hoe om ‘n man gelukkig te hou.
Daarom groet sy stywerig en vat die bak lasagna by hom.
“Dankie,” sê sy. “Ek maak ‘n mengelslaai en sal sorg dat die ete so teen halfsewe gereed is.”
“Net wanneer jy wil, liewe Tilja,” antwoord hy. En toe moet hy TVkamer toe want pa roep. Die dinge met die krieket is aan die gebeur.
“Kom sit by ons…” vra dominee Stef eers mooi.
“Miskien later,” antwoord sy vaag.
Hy kyk lank in haar gesig en daar verskyn ‘n vreemde trek om sy mond, voordat hy wegstap.
Wat is dit wat hom so na haar laat kyk. Kan hy sien dat sy beplan om iets verskriklik aan te vang? Soos om moord te pleeg?
Of sien hy dalk ‘n vrou wat niks van die lewe weet nie en ook wens om regtig vrou te voel… in ‘n man se arms. Sy arms. Sy skaam haar morsdood as dit die geval moet wees.
Hoofstuk 3
Dominee Stef van Staden kuier van ongeveer vieruur vanmiddag af by Tilja se pa. Hulle kyk wêreldbekerkrieket. Soos altyd gaan hoor Tilja wat elkeen wil drink. Tee of koffie, saam met die melktert wat sy gebak het.
Die manne drink koffie. Haar ma en suster drink tee en sy gooi girly s’n in ‘n bababekertjie met ‘n tuit. Vir ma moet sy hou, sodat sy bietjies daarvan kan sluk. Sy voer ma se melktert vir haar. Girly eet self. Maar hare kom in ‘n plastiekbakkie, want gewoonlik as dit leeg is, gooi sy Tilja daarmee. Dit is die teken dat sy nog ‘n stukkie wil eet. Maar dok het gesê sy moet stadig met die soetgoed en tussenmaaltyd versnapperings.
Maar as sy so skree sê Pa. “Gee vir die kind nog.”
Dan gee sy vir die kind nog. Al is die kind sewe-en-vyftig jaar oud.
“Ons gaan netnou eet. Lekker kossies wat dominee vir ons gebring het,” probeer Tilja om haar van plan te laat verander. En toe kom die tuitbekertjie ook aangevlieg. En Tilja gaan haal ‘n lap om op te droog.
En Pa sê: “Gee tog vir die kind nog ‘n stukkie melktert, of gaan stap met haar in die tuin. Ons kyk krieket hier.”
Ma se mond begin bewe. Sy begin klaerig ween.
“Toemaar Mamma, moenie huil nie, ek vat vir Girly uit.” Tilja sit alle sneer en stoot haar suster op die stoep uit en toe met die ramp langs na die swembad se kant toe.
Sy gooi Girly se plastiek eendjies in die water en vertel vir haar om vir hulle soentjies te blaas.
Wat van sy parkeer vir Girly hier op die rand van die swembad en loop net vir ‘n oomblik weg om te gaan kyk of die kos in die oond reg is? Al het sy nog nie die oond aangeskakel nie! En sy kom terug en Girly en die wielestoel lê op die bodem van die swembad?
Agter haar roep haar pa van die stoep af.
“Tilja, jy moet kom kyk wat gaan met jou ma aan. Iets ruik nie lekker nie…”
Sy maak die rem van haar suster se rolstoel los en begin om met haar terug te stap. Maar op daardie oomblik kom Stef ook op die stoep uit. Hy stap teen die ramp af tot by haar en haal die stoel uit haar hande: “Ek sal haar instoot. Gaan kyk wat jy vir jou ma moet doen.”
Skoonmaak en bedwas. Soos altyd wanneer daar te veel opwinding in die omtrek is. En dan sal sy ‘n bietjie slaap.
As Tilja gedink het dat sy ook ‘n stukkie melktert wil eet, is haar lus nou daarmee heen.
Vyfuur skink Pa vir hom en Stef elkeen in Whiskey.
“Wat van Tilja?” vra die dominee soos altyd.
“Nee aarde, jy sien mos dat dit weer ‘n malhuis hier by die Ferreiras is,” lag Pa. “Een van ons moet teenwoordigheid van gees behou.”
Nie dat die manne hulleself ooit onkapabel drink nie. Maar dit is Pa se manier om nie vir Tilja welkom te laat voel in die geselskap nie.
Pa haal ‘n bakkie uit waarin Stef se biltong moet kom. Hy sit die bakkie tussen hulle twee neer en Girly steek ‘n hand uit en skop styf soos wat sy wys dat sy ook wil hê.
“Gee vir haar,” sê Stef.
Pa roep: “Til, bring tog vir die kind ‘n bakkie vir biltong.”
“En vir jou ook Tilja,” verklaar Stef.
Maar sy bring net vir Girlie ‘n bakkie. Daarna gaan loer sy vinnig by Ma in die kamer in.
In die kombuis skakel sy die oond aan. Sy maak die slaai en dra dit tafel toe. Pa het iets om te vier. Die Proteas het die toets gewen.
En die kos is op die tafel…
Hulle kan kom aansit. En as dominee Stef daar is moet hy dank vir die kos. Arme man. Hy bring dit daar aan, nou moet hy boonop daarvoor dank, dink Tilja geamuseerd en hou hom dop toe hy sy oë toemaak.
En tot haar verleentheid weer oopmaak en haar reguit sit en aankyk, terwyl hy plegtig daarvoor dankiesê. En Tilja skud soos wat sy lag en amper betrap ‘n lagbui hom ook in die middel van sy rympie. Maar hy knipoog vir haar en druk deur.
Nog voor sy amen duik Girlie in die lasagne en slaai voor haar op spesiale skinkbord weg.
Vir Ma moet Tilja voer. Mooi praat en smeek vir elke happie wat sy uiteindelik bereid is om af te sluk.
So tussendeur kry sy toe wonder bo wonder ook van die lasagne geëet. “Regtig lekker, dominee,” sê sy. “Dankie dat jy bereid is om te deel.”
“My plesier, suster,” antwoord hy ewe formeel. “Ek kan dit in tien jaar nie alleen opeet nie.”
Pa sit sy mes en vurk neer en kyk na die klomp om hom wat nog eet. As die laaste een ophou eet, gaan hy afkondig. Koffie in die sitkamer. Dan moet Tilja aandra.
Waarna sy gaan skottelgoed was en vir ma en Girlie moet kamer toe neem. Doeke omruil en dan hoop vir ‘n uur se slaap.
Verbasend genoeg bring Stef van Staden vanaand self die leë koffiebekers kombuis toe. Teen Pa se bevele in, want Tilja weet mos hoe haar pa Tekere gaan met, los dit is Tilja se werk.
Stef bly by haar staan terwyl sy skottelgoed was. Toe haal hy ‘n afdrooglap af en begin afdroog.
Op ‘n stadium mymer hy. “Tilja, kan jy glo my vrou Annelie is eergister al drie jaar gelede weg?”
Sy kyk verbaas op. “Nie regtig nie. Dit voel soos gister. Wys net hoe stap die tyd aan.”
“Aan die een kant voel dit soos gister… Maar soms voel dit soos ‘n leeftyd gelede. ‘n Ander era,” erken hy en gaan soek die plekke in die kaste waar hy die skottelgoed kan wegpak.
Ander mense beleef leeftye, kom dit by Tilja op, terwyl sy hom dophou. vir haar is daar net een leeftyd en die uurglas loop uit. Hoe voel dit om iemand te verloor vir wie jy lief is? Sy weet nie eens hoe om iemand te kry van wie sy baie hou en oor wie sy soms stilletjies droom nie. Laat staan nog verloor.
En die een aan wie sy soms dink, kom staan nou vlak voor haar en kyk na haar met daardie warm bruin oë van hom. Maar hy is die dominee en haar pa se buddy en sy sal nie weet wat om met ‘n man te doen, as hy dit dalk sou waag…
Sy kyk haastig weg. Onbehoorlike gedagtes.
"Is jy orraait Til? Dit pla my dat jy meesal so stil is, wanneer dit eintlik baie rof met jou gaan." Stef raak aan haar wang.
"Natuurlik is alles reg, dankie dominee. Ek het mos eintlik niks om oor kla nie," antwoord sy. Sy kan byvoeg: Ek is gesond. Ek is nie die een wat met breinskade huis toe gekom het nie. My bejaarde ouers leef nog albei. Dit is waarvoor mense dankbaar is.
"Tilja, my naam is Stef," sug hy vir die hoeveelste keer. "Wil jy my nie maar op my voornaam noem nie?"
"Ek weet nie Stef… my pa."
"Wat van jou pa, Tilja? Hy noem my lankal op my voornaam."
"Reg… Stef."
"Dit klink stukke beter dankie liefste Tiljatjie." Sy staan versteen en kyk toe hy stadig naderkom, vooroor buk en haar sag op die mond soen. Hy vat sy mond weg, maar sy oë haak vas in hare. "Om my naam uit jou mond is soos musiek in my ore. Moet my nie weer iets anders noem nie."
"Til," roep haar pa uit die sitkamer. "Tyd om hierdie twee vroumense in die bed te gaan sit. Girlie sit al en slaap in haar rolstoel. Dit is nie goed vir haar om so te sit nie. Jy weet die bedsere en druksere sluip oornag in."
Stef staan terug. Dit is duidelik dat hy nog iets wou sê. Toe sê hy net: "Nee, jy kan dit nie alles alleen doen nie. Ek gaan met jou pa praat. Kom hier nie soms ‘n vrou in wat kan help nie?"
"Mara. Drie keer per week. Maar sy moet huis skoonmaak en dan help sy my om vir Ma en Girlie te bad. Maar ons het nie ‘n stort in die huis nie en haar rug is ook nie meer so lekker nie.” Hoekom bespreek sy dit met hom? Daar is niks wat hy aan die situasie kan doen nie.
"En jy Til? Wat van jòu rug?” vra hy dringend. “Dink jy nie dit is tyd dat jou pa hulle iemand permanent kry nie. ‘n Opgeleide caregiver…"
"Moenie eens daar gaan nie,” lag sy wrang. “Ek het verlede week weer voorgestel dat ons my ma en Girlie in ‘n plek sit waar hulle beter versorg word, want ek kan nie meer byhou nie. Dit het nie goed afgegaan by my pa nie."
"Dan sal ek met jou pa praat. As ‘n vriend." Stef vou haar in sy arms toe. Vertroostend, waarskynlik. Soos wat ‘n ouboet sou doen.
"Een of ander tyd dalk. Net nie vanaand nie. Nie nadat ek en jy nou hier in die kombuis gesels het nie. Hy sal raai dat ek dalk iets vir jou genoem het. In jou ore gekla het. Ek wil nie tussen julle mooi vriendskap kom nie."
“Ons mooi vriendskap is veronderstel om jou in te sluit. Weet jy hoe lank al probeer ek om … met jou ook vriende te maak?” Hy glimlag effens. Wil duidelik baie meer sê, maar al wat hy byvoeg is: "En jy weet dat jy met my kan praat, liewe vroutjie. Enige tyd…"
En toe roep haar pa weer. Die keer sommer ongeduldig met sy ou maat en vriend wat hom so laat wag.
Dit is Pa. Hy speel lekker, as hy in die middel daarvan is.
Stef lig sy arms en laat sak hulle weer, toe draai hy om en stap terug sitkamer toe met Tilja agterna.
Sy maak haar suster se rolstoel se rem los en begin om haar weg te stoot. Stef is onmiddelik by maar toe hy die handvatsels vat om die rolstoel gangaf te stoot, gee Girly hom ‘n grootoog kyk en begin skree soos ‘n dogtertjie van vier wat by vreemde mense gelos word en haar Pappa en Mamma sien wegry. Sy ken hom nie. Hy is vreemd.
"Los haar Stef. Sy ken net vir Tilja," sê Pa en beduie na die kroegie se kant. "Kom ek skink vir my en jou ‘n laataand Wiskey. Vir die lekker slaap. Jou huis is mos net hier om die draai. Gelukkig is hier geen padblokkades tussen my en jou nie."
“Dankie oom Piet, maar vir my is dit eers haltroep vir een aand.”
“Stef, jy weet jy kan my maar net op my naam noem,” sê Pa ook vir ongeveer die honderdste keer. “Maar dankie vir jou kuier. En kom loer sommer gou weer in.”
“Dit sal ek gewis doen,” antwoord hy en wag dat Tilja vir hom die voordeur kom oopsluit. Sy stap saam met hom op die stoep uit. En toe buk hy weer vooroor.
Hy vra: “Mag ek?”
Sy wonder nog wat? Toe soen hy haar weer op die mond. “Soet drome, mooiste vrou. En onthou om met jou ander beste vriend te praat, voor jy vanaand jou oë toemaak om te slaap.”
En daar onthou sy haar jaregelede Sondagskoolliedjie: “Wat ‘n vriend het ons in Jesus. Hy wat in ons plek wil staan. Wat ‘n voorreg om gedurig…”
“Net mooi Hy Tilja.”
“Veilig ry en lekker slaap, Stef,” sê sy agter hom aan.
Hy maak sy kar se deur oop en staan eers ‘n oomblik vir haar en kyk, voordat hy inklim.
Hoofstuk 4
Woensdagmiddag bel Stef van Staden vir Pa. Dit is klein Saterdag. Wat van hy kry tjops en Tilja maak ‘n aartappelgereg of aartappelslaai en hy kom steek ‘n lekker vuurtjie hier op hulle stoep in die braaier aan?
“Jissie ou mater,” roep Pa uit. “Ek en Tilja was juis vanoggend by die winkels en sy het wors gekoop om in die pan gaar te maak. Maar wors is darem soveel lekkerder oor die kole. Dit klink na die wonderlikste idee wat ek nog hierdie jaar gehoor het. Hoe laat sien ons vir jou?”
“Kan ek met Tilja praat, Oom? Ek wil graag by haar hoor wat sy drink.”
“Sy en die vroumense drink koeldrank Stef…” begin Pa. Maar dan hou hy op praat, want iemand aan die anderkant van die foon praat net ‘n klein bietjie harder as hy. So hard, dat selfs Tilja dit hoor waar sy vir ma sit en voer. “Ek vra om met Tilja te praat, asseblief oom… Piet!”
Op sy voornaam en Tilja kan net glimlag vir die skok op haar pa se gesig.
“Die dominee wil met jou praat Tilja,” sê Pa.
“Hi liewe Tilja, jy goed?” vra Stef toe sy die foon by haar pa vat.
“Geen pyne, dankie.”
“Ek het myself genooi om daar by julle te kom braai, hoop dit is oukei met jou.”
“Natuurlik is dit. Kan lekker wees, Stef,” antwoord sy en ignoreer die ietwat ontstoke uitdrukking op haar pa se gesig. “Enige spesifieke bykosse of slaai wat ek kan maak.”
“Jou pa het gepraat van aartappelslaai…”
“Dan maak ek aartappelslaai.”
“En wat sal jy kies om te drink of kan ek vir jou een of ander cider of wyn saambring.”
“Ek hou van wyn.”
“En sal sesuur jou pas?”
“Ja Stef, sesuur klink reg.”
“Ek neem aan jy het darem seker jou eie selfoon. Gee asseblief vir my die nommer.”
Sy huiwer ‘n oomblik. En toe gee sy vir hom die nommer. Dit is seker niks minder as reg dat haar dominee haar nommer het nie.
Dit is ‘n heerlike kuier, vir ‘n verandering buite op die braaistoep. Natuurlik het Tilja in elk geval haar hande vol met haar ma en Girlie se kos en etes. Etes wat sy vooruit maak en vries, sou daar iets met haar gebeur wanneer sy dalk in die winkels of apteke is.
“Wat drink jy Stef?” vra pa.
“Ek het vir ons wyn gebring… oom Piet.”
“Dan bring ek glase.”
"Wat van Tilja, oom?" vra Stef, toe haar pa net twee glase uithaal.
"Tilja, Stef sê jy moet vir jou ‘n glas bring, sodat hy vir jou kan koeldrank skink.”
“Nee, ek het nie gesê sy gaan koeldrank drink nie. Sy wil saam wyn drink.” Die man steek eers die vuur aan. Hy gaan nie sy humeur verloor nie. Daarna vee hy sy hande af, draai om en stap na haar pa se glaserak toe om nog ‘n wynglas uit te haal. Hy skink en sit die glas in Tilja se hand.
“Dankie, dit sal lekker wees.”
Haar pa keer flou: “Wow Tilja, jy moet weet jy kyk na mense. Een is genoeg. Jy kan ook nie te vas slaap nie. Girly word baie nagte wakker en dan moet jy weer doek omruil. Stef jy wil nie weet hoe lyk die onderstewe van iemand wat ‘n uur of langer met ‘n nat doek lê nie?"
“Nee, ek wil nie weet nie,” antwoord Stef. “Want ek sien nie kans om dit te doen nie, al is ek hoe lief vir mense. Doen jy dit soms Piet? Ruil die mense se doeke om.”
“Nee Stef, dit is onbetamelik. Ek is ‘n man en hulle is vroumense. En dit is die soort goed wat vroumense moet doen. Hulle word verpleegsters.”
"Wel ek haal my hoed af vir verpleegsters en mense wat dit elke dag doen. Dit verg ‘n baie spesiale mens en elkeen is nie in die wieg gelê daarvoor nie.”
“Of jy word by die diepkant ingegooi, want daar is niemand anders om dit te doen nie,” help Pa hom reg.
“En dit is hoe dit gebeur het dat Tilja dit elke dag van haar lewe moet doen. Dag en nag. Vir hoeveel jare al?” wonder Stef.
“Die ongeluk was vyftig jaar gelede. Maar toe was my vrou ook nog jonk en sterk en in daardie stadium het sy ‘n bediende gehad.”
“Hulp. Ja en Girlie was toe nog ‘n klein dogtertjie. Nou is dit twee volwasse dames. Moet julle dit nie so bewerk dat iemand anders soms vir Tilda kom aflos nie, Oom?" roer Stef die onderwerp versigtig aan. “Dalk is sy ook lus om soms vir ‘n naweek loshotnot te wees. Soms weg te gaan?”
"Weggaan waarheen? Het sy vir jou ook vertel van haar drome om iewers heen te reis?”
“Sy het nie? Waarheen wil jy gaan Tilja?”
“Hongarye, Italië, Portugal…” begin sy.
“Ai tog. Net wensdenkery. Nee nee, Tilja het die saak onder beheer, ou seun. Ek dink buitendien sy kan daardie doeke al in haar slaap omruil…" spog Pa toe Tilja opstaan om vir ma in die bed te gaan sit.
“O ja, ek kan,” glimlag sy. “Net jammer dat mens daarna soms sukkel om weer aan die slaap te raak as dit drieuur in die nag gebeur.”
Sy sien iets op Stef se gesig toe hy eers na haar en toe na haar pa kyk. Dalk sien hy die magteloosheid op haar gesig, al maak sy ‘n grap daarvan.
Sy was vinnig haar ma se boudjies en sit salf en ‘n nuwe doek aan en toe help sy haar tot in die bed.
En daar trek Ma se gesiggie effens en die woorde kom effens krom en skeef en sleeptong uit, “dankie Tilja.”
Sy kyk verbaas na haar ma en antwoord. “Plesier, Mamma… Lekker slaap.”
“Vir altyd sssslaap.”
“Ek wens ek ook Mamsie. Myself,” bieg sy en vou haar arms om haar ma.
“Nee, jou lewe nog… voor.”
“Dankie vir Ma se geselsie. Dit is kosbaar.” Sy soen haar ma op die voorkop en toe op die lippe. Wanneer laas het haar ma gepraat? Duidelik genoeg gepraat dat sy kan verstaan. Hierdie was kosbaar. Sy fluister: “Lief vir Mams.”
Sy vee eers die trane van haar ma se wange af en toe die van haar eie en daarna gaan haal sy vir Girlie.
“Sê lekker slapies vir dominee Stef, Girlie,” sê Pa.
Girlie skop weer styf en roep. “Jejeje oom Doom.” Darem raak sy in die laaste tyd meer gewoond aan Stef. Hy is nie meer die skrik van Boomstraat nie.
Aan die einde van die aand help Stef eers weer met die skottelgoed en voordat hy groet, sê hy. “Die gemeente kamp weer soos altyd hierdie Paasnaweek saam in die Wildtuin. Maroela ruskamp. Ek weet hoe lief was julle altyd vir die Wildtuin oom Piet. Ek wens ek kon julle saamneem.”
“Aag Stef, daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan.” Wyse woorde van Pa. “Ek sal nie meer kan kamp nie. Maar jy moet mooi foto’s neem en vir ons kom wys.”
Ja, dit is nogal iets wat Stef geniet. Om by watergate in die Krugerwildtuin of Kalahari te gaan sit en foto’s te neem. Toe sy vrou nog geleef het en sy kinders klein was. Nou is sy kinders groot en getroud en sy vrou oorlede. En dit hy doen dit blykbaar nog steeds. Hoe graag sal sy nie eendag saam met hom by so watergat wil sit en wag vir diere om hulle verskyning daar te maak nie? dink Tilja.
“Ek het nie gedink oom Piet sal wil kamp nie, maar wat van jou Tilja? Daar is weer die enkel manne en vrouegroep wat kampeerplekke bespreek het waar hulle ‘n tentelaer maak. Baie ordentlike volwasse mense. En toevallig is daar ‘n kansellasie. Alles betaal, behalwe die natuurbewaringsfooi en ingangfooi. Is jy nie lus om saam te gaan nie, Tilja? Basjan kan altyd ‘n ekstra tent laai en hy sal dit opslaan…”
“Wanneer? Hierdie naweek al?” Pa se oë is pieringwyd. “Nee, te kort kennisgewing, Stef. Dan moet ek hulp reël vir Ma en Girlie. En Tilja se karretjie is wie weet wanneer laas gediens.”
“Basjan het ‘n Combi. Daar ry drie ander mense ook saam met hom en Tilja sal baie welkom wees,” hou Stef vol. “Daar is kosmaakgroepe, al wat jy moet saamneem is jou eie eetgery en ‘n beker, miskien koffie en beskuit vir vroegoggende. Ons kan jou by die etegroep laat inskakel waar Liz nou uitgeval het.”
“Klink heerlik. Miskien eendag…” antwoord Tilja. Al weet sy eendag gaan nie vir haar aanbreek nie.
Elke dag raak sy meer vasberade. Binnekort skraap sy genoeg moed bymekaar om al die pille wat sy vir haarself bymekaar gemaak het te drink.
Dan sal selfs haar pa weet dat die lewe vir haar net te veel geraak het. Behalwe dat hy haar natuurlik sal kwalik neem omdat sy hulle in die steek gelaat het.
Maar vir eers lê daar nou ‘n berg voor haar. ‘n Ellelange naweek waarin sy waarskynlik nie ‘n woord van Stef gaan hoor of hom gaan sien nie. Sy sal moet versigtig wees. Sy raak al hoe meer afhanklik van hierdie kuiertjies van hom by haar pa. Dit moet nie so raak dat sy haar fokus verloor op wat sy moet doen nie.
Buitendien, daar is ander enkel vroue wat ook waarskynlik al begin flikkers gooi by die aantreklike wewenaardominee. Een van die dae kom stel hy hulle aan sy nuwe vrou voor. En vir haar sal dit dan in elk geval voel asof die einde van die wêreld aangebreek het.
Hoofstuk 5
Een van die langste langweke in Tilja se lewe breek aan met dominee Stef en sy enkelgroepmense wat die naweek in die Krugerwildtuin gaan kamp. Hy stuur vir haar ‘n Whatsap toe hulle by Orpenhek inry en haar hart maak sulke pynbeweginkies in haar borskas as sy net daaraan dink dat sy dalk saam met hulle… nee saam met hom daar kon gewees het.
Stef stuur vir haar ‘n video van hoe twee dames sukkel om hulle tentjies opgeslaan te kry. Sy hoor hoe hulle onder mekaar lag en skerts en toe kom een van die dames nader en keer met die hand om te wys dat hy liefs nie hulle onkunde verder moet afneem nie.
Wat ‘n lekker atmosfeer is daar nie? Hoe lekker sou dit nie gewees het om weer met vriende van haar eie ouderdom te kon kuier nie.
Later stuur hy vir haar ‘n foto van ‘n hiëna wat teen die heiningdrade snuffel en hoop vir ‘n stukkie weggooikos. Wens dat jy dit saam met ons kon geniet, skryf hy daarby.
Tilja wens dit self. Later klim sy in haar bed en verbeel haar dat sy die Wildtuin geluide saam met Stef en sy groep geniet.
Elke dag van die naweek stuur hy foto’s. Van die kos, van die diere wat hulle sien. Kampe waar hulle iets gaan eet. Een aand se uitry op ‘n nagrit. En daardie aand huil Tilja haarself aan die slaap. Die volgende twee dae se foto’s en Whatsaps beantwoord sy net met ‘n duimoptekentjie.
Dit is stil in die huis ook.
Pa se maat kom nie kuier nie, en dit is vir hom ook erg. Stef se wegbly is ‘n ramp.
Maandag kry Tilja ‘n Whatsap van Stef af wat lees: Pas kamp opgepak en nou op pad terug. As dit nie te laat is nie, kan ek vinnig kom inloer?
Tilja skryf net: Veilig ry.
Maandagmiddag kyk Pa op sy selfoon. Hy sug diep tevrede en roep uit: “Klink mos of dominee Steff en sy groep darem nou aan die terugkom is. Sjoe ek hoop darem dat hy beplan om een of ander tyd in die week by ons ook uit te kom.”
Sesuur bel hy, maar Tilja is te laat om die foon te beantwoord, want sy is besig om haar ma te help eet.
Eintlik sou dit lekker gewees het om hom weer te sien na so ‘n lang naweek. Maar sy is net te moeg en te moedeloos om hom terug te bel en te nooi om te kom koffie drink.
Sy klim in die bed en slaap tot haar volgende doekomruilskof.
Daarna lê sy vir byna die res van die nag en rondrol. Sy weet nie wat dit is wat maak dat Stef soveel bemoeienis met haar maak nie. En eintlik is dit baie spesiaal en sy kon dit seker werklik waardeer het, as sy enigsens kon glo dat ‘n vriendskap soos hierdie vir hom ook iets kan beteken. En meer as vriendskap kan sy nie vir hom bied nie. Nie met al die ekstra bagasie wat sy met haar moet saambring nie.
Bagasie wat enige passie en romanse tussen ‘n man en vrou sal doodmaak as hy dit moet help dra.
En dan word sy ‘n las vir hom.
Hoekom sy eie lewe kompliseer deur aandag aan haar te skenk? En om haarself die verleentheid en hartseer te spaar van soos ‘n warm patat gelos te word, sal sy sommer van hierdie week af vir hom wys dat sy van haar kant af nie sal belangstel in enigiets meer as net vriendskap tussen hulle nie.
Dinsdag teen elfuur is die huis skoongemaak, ma en sus gewas en gevoed en nou sit hulle in hulle rolstoele by Pa in die sitkamer voor die TV. Hulle kyk wilde diere want daar is nie krieket nie.
Pa se selfoon lê daar langs hom. Hy verwag ‘n oproep van enigiemand wat sy dag kan kom opkikker. Waarskynlik iemand soos dominee Stef van Staden, want daar kom nie eintlik ander mense meer by hom kuier nie.
En behalwe vir sy selfoon, pas Pa die karre se sleutels op. Dit is daar op die tafeltjie langs sy stoel. As daar apteek of winkels toe gery word, gaan hy saam, of niemand ry nie.
In die waskamer steun die wasmasjien onder 'n ekstra groot vrag en Maria staan buite en hang wasgoed op.
Dit gaan 'n interessante oefening wees, besluit Tilja en glimlag stilletjies by haarself. Sy wil inderdaad winkels toe gaan, maar sonder Pa. Net een keer wil sy die rakke vinnig deurzirts agter noodsaaklikhede aan, sonder om te moet wag dat hy uiteindelik die ander punt van die gang bereik het. Of dat daar iewers deur die oefening dringend na 'n toilet gesoek moet word, want sy nodens kom deesdae skielik en sonder beheer.
Maria sien haar op die agterste stoep staan. Sy vra: “En nou Tilja?”
“Ek wil vinnig stap en gaan brood koop en iets by die apteek kry, maar as Pa hoor ek wil ry, sal wil saam. So jy moet vir my cover. Ek gaan nie lank wees nie. Sit solank pap op die stoof, ek bring vir ons maalvleis vir frikadelle.”
“Reg so Tilja.”
“En as my pa vra waar is ek, dan sê jy ek is in die waskamer.”
“Reg so Tilja, gie gie gie,” lag sy.
Tilja gaan trek ‘n oorjas met sakke aan en glip haar eie debietkaartjie in haar sak en toe drafstap sy by die kombuisdeur uit, om die huis en by die voorste hek uit.
Die winkels is in elk geval naby genoeg om vinnig heen-en-weer te glip. Ongeveer 'n kilo en 'n half van hier. Sy druk hande in die sakke en slaan amper oor op 'n amper draffie en konsentreer so op die sypaadjie dat sy haarself buite weste skrik toe daar 'n motor langs haar stilhou. En af kom die ruit daar langs haar.
"Tilja, liewe aarde, waarheen skarnier jy so haatig? Waar is jou karretjie, want ek dink nie jy is besig om te draf vir oefening nie?" Dominee Stef lag mooi en warm.
En daar glip Tilja se hart amper van sy stewige ankers af.
"Ek het huis geslip," erken sy. "Ek moes net bietjie uitkom ... sonder my pa anders vat dit lank en twaalfuur wil almal weer eet.”
“Uitkom waarheen?” Hy leun oor en maak die deur aan die passasierskant van binne af oop. “Ek is op pad Spar toe. Maar ek kan jou enige plek gaan aflaai.”
“Ek wil nie vir jou moeite maak nie. Ek moet my mense se voorskifte by die apteek gaan afhaal.” Sy swyg oor die brood koop gedeelte. Dit gebeur ook in Spar.
Hy skud sy kop. “En nou hol jy eerder daarnatoe as om ‘n kar te vat. Daar staan drie karre by julle huis in die garage. Is jy bang vir jou pa. Ek is seker oom Piet byt nie.”
“Nee hy byt nie. Maar jy verstaan duidelik nie. As die wiele rol, wil arme pa Piet saamkom en dit vat langer om hom in die kar te kry, as om vinnig winkel toe te draf."
“En gelukkig kan jy nog draf. Jou arme pa kan nie meer nie.”
“Ek weet Stef en ek is regtig jammer vir hom omdat hy nie meer alles kan doen wat hy graag wil doen nie. Dit frustreer die sewe kleure daglig uit hom…” en soms uit my, wil sy byvoeg. Maar dit is nie die tyd en oomblik nie.
"Nou ry saam, dan gaan dit nóg vinniger."
Tilja klim in, want die deur is nou oop en dit sal seker nie baie goed afgaan as sy dit toedruk en probeer om vir hom ook weg te hardloop nie.
Buitendien, dit is so onbehoorlik lekker om hom te sien. Kan sy haarself nie maar net tien minute in sy geselskap gun nie? Ten spyte van haar middernagtelike voornemens om hom weg te stuur van hulle huishoudelike ramp af.
“Dit lyk asof julle die Wildtuinnaweek verskriklik geniet het,” knoop Tilja ‘n geselsie aan toe Stef wegtrek en begin ry.
Hy byt op sy onderlip, steek ‘n hand uit en vou dit oor hare. Hy kyk haar ‘n oomblik vas in die oë voordat hy sê: “Ek gaan nie weer sonder jou nie. Elke oomblik daar was ‘n pyn, want ek weet mos hoe graag jy ook daar wou gewees het.”
“Dit moenie so wees nie… Jammer.”
Hy los haar hand weer. “Jy hoef glad nie jammer te sê nie. Dit is nie omdat jy geneul het of iets gesê het om my skuldig te laat voel nie. Dit is juis omdat jy niks gedoen het nie. Jou lot so gelate aanvaar…”
“Nie regtig nie. Ek is soms in opstand.” Sy maak vuisies en boks voor haar in die lug.
Hy kyk na haar en glimlag effens, maar iets op sy gesig. Iets in sy oë, laat dit net vir ‘n kort oomblik voel asof sy in suiwer liefde toegevou word.
Sy kyk haastig weg. Moenie iets sien wat nie is nie, Tilja, maan sy haarself. Hy sê dit bloot omdat hy ander mense se belange op die hart dra. Nie omdat hy vir haar iets as vrou begin voel nie.
Hoofstuk 6
Tilja wou skelmpies van die huis af wegsluip winkels toe en daar ry dominee Stef van Staden toevallig by haar verby en gee haar ‘n saamrygeleentheid. Sy wou eers weghardloop, maar klim tog in. Hulle gesels oor sy groep kampeerders se naweek in die Wildtuin en hy sê met gevoel dat hy nie weer alleen gaan nie. Volgende keer moet sy saam.
“Stef, hou asseblief op om dit te sê. Dit gaan nie gebeur nie. Ek is vasgevang in ‘n situasie…”
“Dit moet verander. Ek gaan ernstig met jou pa praat,” antwoord hy.
“En sê wat? Dat ek moet hulp kry met hulle. Wat hy glad nie sal glo nie, want ek het die saak glo onder beheer. Dit is my plig.”
“Los dit by my. Ek dink daaroor… en ek bid daaroor.”
Sy krimp ineen, “Bid? Ek bid ook, maar ek weet nie meer wat ek behoort te vra nie? Eers het ek gehoop dat Girlie heeltemal gesond sal word. Toe het ek besef dat dit nie gaan gebeur nie. En ek is nie kwaad daaroor nie. Net magteloos. Ek weet ek kan nie vra dat my ma gesond word nie. Haar liggaampie is klaar. Maar ek kan tog nie vra dat sy doodgaan nie. En my pa is nog so lewensbly…”
Stef luister net. Hy stop by die kruising. Hy kyk links en kyk regs en ry weer.
Sy praat weer. “Ek het gevra dat hy die regte keuse moet maak en dat hulle in ‘n versorgingsplekkie gaan woon, sodat ek net eenkeer in my lewe my eie mens kan wees. ‘n Eie woonplek. My eie meubels kan kies. Dan weet ek hy bid stilletjies dit dit nie nodig is vir hulle om nie te gaan nie. Dat ek bereid sal wees om na hulle om te sien tot hulle eendag… nie meer is nie.”
“Alhoewel, ek weet nie of hy enigsens daaroor bid nie. Die trien gebooie is aan sy kant. Eer jou vader en jou moeder. En hy en my ma bly al vir sestig jaar lank in ons huis. Dan maar ek maar net my oë in die aande toe en dink: Hemelse Vader, laat U wil geskied… en dit is moeilik.”
Sy hou op praat. Skoon uitasem oor alles wat sy kwytgeraak het. Sy is nie meer gewoond om met enigiemand te praat nie en hier blaker sy elke greintjie gevoel teenoor dominee Stef uit.
Kla sy in sy ore.
“Ja, dit is moeilik Tilja…” Hy ry by die sentrum in en soek ‘n parkeerplekkie. En daar sien hulle een van die susters van die gemeente raak.
Sy staan na dominee Stef se Hyundai en kyk terwyl hy parkeer. Hy waai ‘n vriendelike groet en sy lig ‘n hand, waarna sy diep frons toe sy Tilja by om in die kar sien.
‘n Entjie verder haal sy haar selfoon af en bel. Duidelik is dominee Stef onder bespreking.
“En nou is jy in die moeilikheid, dominee Stef van Staden,” raas Tilja met hom. “Mag jy ooit vroue in jou kar laai? Wat sê die wet?”
“Dat jy jou naaste moet liefhê,” spot hy en vra. “Waar wil jy oral wees?”
“By Spar en die apteek. Miskien die groentewinkel as hulle nie lekker tamaties het nie.”
“Ek gaan net vinnig my hare laat sny. Ek het vanoggend in die spieël gekyk en gedink. Ja ou Stef mens kan sien jy het nie meer ‘n vrou wat vir jou sê, die wolprys is op, laat skeer jouself nie. Daarna gaan ek ook vinnig by Spar inhardloop. Vat jy die karsleutel met jou saam.”
“Nee, ek sal dit by jou kom haal, as ek voor jou klaar is.”
“Goed, sien jou oor 'n halfuur by die barbier of by die kar, anders kom soek ek jou." Hy stap by die manshaarkapper in.
By Spar koop Tilja margerien, brood, sopgroente, hoenderborsies en gaar frikadelle en groente en toe glip sy langsaan by Tops in vir 'n bottel Ou Bruines. In 'n sak asseblief. Sy skaam haar morsdood as iemand van die gemeente vir haar moet sien drank koop.
Al het Stef nou haar planne om weg te glip na die saligheid ietwat in die wiele gery, kan sy seker ook soms vir haarself 'n laataand knertsie skink. Jimmel sy is amper vyf en vyftig jaar oud. Sy is nie meer ‘n kind nie.
Ja sowaar nie. Oor drie dae verjaar sy.
Die roete na die apteek neem haar verby die barbier.
Stef sit in die stoel en hy en die haarkapper gesels dik stukke. Hy lyk nog blerrie goed vir sy ouderdom. En hy glip heel flink uit die stoel om vir haar sy motorsleutels te gee, sodat sy haar pakkies kan bêre.
Haar hart is nou skoon simpel. Daar is geen reëlmaat in sy slae toe hulle hande aanmekaar raak nie. Dalk is die noodlot nou besig om vir haar 'n poets te bak en sterf sy aan 'n hartaanval die oomblik waarop Stef sy gevoel teenoor haar verklaar.
Nee, veel erger. Dalk is hy besig om sy toergroep uit twintig hoopvolle weduwees saam te stel en kom sy eers in Israel agter dat hy eintlik sy oë op die pragtige Suzette Nel het. Dit sal ook fataal wees. Dan sterf sy aan 'n gebroke hart.
Dit gaan vinnig by die apteek. Die voorskrifte is reeds opgemaak. Die sak waarin dit kom weeg byna swaarder as al haar ander inkopies saam en sy is bly dat sy nie hoef te stap nie. Op pad kar toe loop sy so byna in Stef vas wat uit die tuisnywerheid kom.
"Melktert!" spog hy en sy oë boor in hare. "Moenie vir my sê dat jy my nié gaan nooi vir koffie nie."
"My pa slag my heel af. Hy gaan agterkom dat ek uitgeglip het en jy 'n medepligtige was," steun sy.
"Daarvoor moet hy eers by my verbykom." Hy skraap sy keel en vra uit die bloute. “Ek wil vir jou kom kuier… een aand. En ek wil jou graag iewers neem vir jou verjaarsdag. Dit is oor drie dae.”
Dan weet hy dit. Hy het moeite gedoen om uit te vind wanneer sy verjaar.
“Ai Stef, dit is so moeilik. My pa dink jy is sy maatjie. Kom wys liewer vir ons jou foto’s, as jy wil.”
“Ek wil ja. Baie dankie. Sal moreaand jou pas?”
“O gits, ek weet nie Stef,” spot sy. “Laat ek net eers my besige dagboek raadpleeg, dan laat weet ek jou. Dit sal moet gebeur tussen my Namakwalandblomme toer en die bootvaart op die Rynrivier in Duitsland.”
“En as jy van die maan af terugkom wil ek steeds vir jou uitneem vir jou verjaarsdag… Asseblief.”
“Jy hoef jou regtig nie oor my te ontferm nie. Ek is nie so ellendig as wat ek lyk nie.”
“Ek wil jou nie uitneem omdat jy ellendig lyk nie. Ek wil dit doen omdat jy vir my fantasties lyk.” Hy lag, maar iets op sy gesig wil ernstig bly.
“Jy is baie dierbaar, dominee Stef. Maar my grootste bekommernis op die oomblik is om nie uitgevang te word omdat ek weggeslip het nie.”
“Nou hoe kan ek daarmee help?” vra hy terwyl hulle in haar staat indraai. Hy ry al hoe stadiger en sy oë is kastig wyd van konsternasie.
Voor haar se huis hou hy in die straat stil en Tilja draai na hom toe. “Nou gaan jy vir my vyf minute gee om by die agterdeur in te glip, dan kom druk jy die interkomklokkie, dan sal ek jou en jou melktert inlaat.”
Sy klim uit die kar en maak pakkies bymekaar, voordat sy swaar gelaai by die tuinhekkie inglip en koes koes om die huis hardloop.
En vyf minute later lui die interkomklokkie.
Pa roep: “Tilja of Maria, daar is iemand by die hek.”
Tilja loop verby en kyk by die venster uit. “Dit is dominee Stef, Pa. Moet ek hom laat inkom?”
“Watse vraag is dit Tilja? Natuurlik. Maak die hek oop en laat die man inry. Is daar genoeg kos? Wat het jy gemaak om te eet? Sal hy kan saam eet?”
“Pap, frikadelle met ‘n lang sous en groente Pa. Maar ons kan seker ‘n ou vleisbolletjie aan hom ook afstaan as ons mooi meet en pas,” spot sy en stap by die voordeur uit om vir Stef by sy kar te gaan haal.
“Ek voel soos ‘n bankrower of ‘n krimineel van al die gerondsluipery,” spot hy. “Maar ten minste is dit baie meer opwindend as die gewone vlerkslepery, skat ek.”
“Is jy besig om iewers vlerk te sleep, dominee Stef?” vra Tilja kastig verbaas.
“Jimmel, hoe dik moet iemand se vel wees as sy dit nog nie agtergekom het nie?” Hy buk vooroor en vee ‘n soentjie oor haar mond. Hy sluit sy kar en terwyl hulle by die stoeptrappe opstap groet hy plegtig: “More suster. Hoe lyk dit hier by die Ferrairas?”
“Nee wat heel goed dankie Dominee. Jy is heel betyds om saam middagete te nuttig. Ek sien jy het ‘n melktert gebring, kan ons dit dalk gebruik as nagereg?”
“Ek was nie eintlik van plan om rondom die etensuur hier by julle in te val nie, suster. Net koffie sal reg wees.”
“Nee man Stef,” roep pa waar hy hulle by die voordeur staan en inwag. “Bly vir middagete. Tilja het frikadelle en mash en groente gemaak en daar is altyd genoeg vir nog ‘n persoon wat al amper soos familie voel.”
“Pap, Pa,” help Tilja hom reg. “Pap en Frikadelle met ‘n laaaang sous. En groente.”
“O gits, is pap goed genoeg vir jou Stef?” vra Pa.
“Pap is koningskos Piet.”
Hoofstuk 7
Stef bring toe inderdaad sy rekenaar met al sy Wildtuin foto’s Woensdagaand en koppel dit op die Fereirras se groot televisie. Tilja sorg vir ‘n paar bordjies sout en soet.
Girlie baljaar in die biltong wat Stef gebring het en hy glimlag maar net daaroor. Sy eet te veel van alles en teen agtuur sorg sy vir Tilja vir ‘n meesterstuk van ‘n doek, toe sy ongemaklik begin kriewel in haar stoel.
Sy bedwas haar suster, trek haar skoon aan en sit haar bed se kotkante op. Sy gaan nou lekker slaap. Magie vol, ogies toe. Maar nee, vanaand is Girlie moeilik, sy wys vir Tilja om in haar bed ook te kom klim.
“Nee, ons het mense Girlie. Stef kuier nog by ons en ek moet gou vir Mamma ook kamer toe bring.” Sy gaan sit nietemin by Girlie en sing saggies vir haar. “Laat ons skyn vir Jesus met ‘n helder glans. Skitter soos die sterre aan die hemeltrans…”
Girlie sing saam: Laa ons kyn vir ê ê met ‘n ê ê ê.
“Dis nou mooi. Nou sing jy alleen totdat ek vir Mamma gebring het.”
En Girlie begin weer. “Laa on ky vir ê ê.” Maar teen die tyd dat Tilja in die sitkamer is, gil Girlie ten hemele.
“Wat is dit tog met die kind?” vra Pa omgekrap.
“Sy wil hê ek moet ‘n rukkie daar by haar lê en saam met haar sing. Maar ek moet eers gou vir Mamma ook in haar bed kry.”
“Nou gaan doen dit dan. Ek en Stef sal solank nog ‘n drankie drink. Dan kan jy vir ons koffie maak, wanneer jy terugkom.”
Tilja sein ‘n ‘ekskuustog Stef’ met haar oë, en hy glimlag maar net vir haar terug.
Sy hoor hoe haar pa vra: “En nou met Israel se oorlog Stef? Sal jou jaarlikse toer daarnatoe weer kan plaasvind?”
“Nee Piet. Ek het besluit om op te hou om toere oorsee vir groepe te reël. Maar miskien doen ek net een laaste reis. ‘n Bootrit op die Douro rivier in Portugal.”
Tilja luister nie verder nie. Sy stap met ma kamer toe. Help haar Ma ook op die bed en maak haar skoon. Sy kry ook ‘n nuwe doek.
Tilja gee haar ma ‘n drukkie. “Lekker slaap Mamma.”
In daardie stadium is Girlie stil. Sy het self aan die slaap geraak, maar Tilja voel skuldig oor die traanstrepe oor haar wange. Sy soen haar op die voorkop.
Terug in die sitkamer het Stef reeds sy rekenaar en toue bymekaar gesit. Hy is gereed om te gaan. Hy wys die laaste koppie koffie van die hand, dit het baie laat geword en Tilja wonder of sy haar verbeel. Maar eintlik weet sy dit. Selfs hierdie sagmoedige wewenaar is besig om op te gee op haar.
Daar is ‘n somber gevoel tussen hulle toe hy vooroor buk en haar weer ‘n vegie oor die mond gee. ‘n Nagsoentjie wat elke stukkie vouwees in haar wakker skud, maar sy staan ewe bedeesd terug en wag dat hy moet ry.
Stef vra weer. “Vrydag is jou verjaarsdag. Mag ek jou uitneem vir ete die aand?”
"Ongelukkig nie, Stef. Maar baie dankie. Jy sien mos teen die tyd hoe gaan dit in die aande en ek kan nie van Maria verwag om ‘n Vrydagaand te kom inslaap nie. Sy het ook mense wat haar by die huis soek," antwoord sy ferm en weet sy klink soos haar pa.
"Dit is so jammer, ek sou jou graag ‘n bietjie wou bederf. Maar ek verstaan." Die sagtheid in die man se oë maak haar so byna week. Alles aan hom wys dat hy nie wil ry nie.
Dan is dit nou of nooit. Tilja kyk lank na hom, voordat sy sê. “Jy moet van my vergeet, Stef. Daar is baie ander vroue. Mooier en jonger as ek en baie meer dinamies. Moenie jou tyd langer op my mors nie.”
“O nee, tydmors is dit nie. Dan wag ek maar. Hopelik eendag.”
Hy druk haar styf teen hom vas, voordat hy in die kar klim en wegry.
Donderdag sien of hoor sy niks van hom nie. Miskien het hy gedink oor wat sy gesê het en besef dat sy reg is. Dan is dit sy manier om homself stadig maar seker van haar af los te maak, kom dit by Tilja op toe sy die aand hartseer en alleen in haar bed klim.
More is haar verjaarsdag, maar dit is nie ‘n dag om na uit te sien nie. In hierdie stadium voel dit vir haar asof tyd wat aanstap haar grootste vyand is.
Vrydagoggend is Maria vroeg daar. “Happy Birthday, Tilja!”
“Dankie Maria, miskien sal ek so teen elfuur vir ons ‘n koek en ‘n paar pasteitjies gaan koop. Dan hou ons paartie,” sê sy gemaak vrolik. Stef het nog nie gebel nie. Nie eens ‘n Whatsap van hom af nie en hy was die een wat haar kastig vanaand wou uitneem.
Waarskynlik omdat sy hom Woensdagaand gepos het. Hy kon seker nie wag om van sy selfopgelegde verantwoordelikheid jeens haar ontslae te raak nie.
Na ontbyt bad Tilja en Maria die vroumense. Pa spandeer self ‘n uur of twee in een van die ander badkamers. Hy kom uitgestap met ‘n pak klere soos wanneer hy kerk toe gaan.
“Geluk Tillie my ou doggie. Vyf en vyftig vandag.” Hy gee haar ‘n drukkie en Tilja is verras oor die feit dat hy onthou. Verlede jaar het dit hom bygeval toe een van haar lank gelede kollegas wat saam met haar skoolgehou het haar gebel en geluk gewens het. “Gaan bad en trek vir jou mooi aan dan gaan eet ek en jy ‘n stukkie koek by die koffiewinkel.”
“Pa,ek sal eerder vir ons iets by die tuisnywerheid gaan koop en huis toe bring. Dan kan Maria en Ma en Girlie saamkuier.”
“Slim plan. Nou gaan maak vir jou mooi dat ons kan tuisnywerheid toe gaan. Trek maar vir jou een van daai fleurige rokkies aan wat Ma vir julle vir kerk gekoop het.”
Tilja glimlag maar net. ‘n Rok uit die ark, ja. Eenderse rokke vir haar en Girlie, want haar sussie hou nog steeds daarvan as hulle dieselfde klere aantrek. Hulle verskil mos net twee jaar.
Maar bad is altyd ‘n heerlike luukse wanneer Maria daar is en sy gooi lekker skuim in die water. Lê lank tussen die borrels, totdat haar pa teen die deur kom hamer.
“Klaarmaak, ek wil winkels toe gaan en terugkom, Tilja.”
“Reg Pa.” Sy klim uit en droog af. Sy trek ‘n wit Langbroek en ‘n mooi geborduurde wit bloesie aan. Uiteindelik blaas haar hare op haar tyd droog en sit ‘n bietjie grimering aan. Wanneer Pa vir die hoeveelste keer kom klop, stap sy saam met hom sitkamer toe om vir Ma en Girlie te gaan groet.
En stap tussen ongeveer tien mense wat daar wag in.
“Surprise,” skree haar vriendin wat saam met haar skoolgehou het. En langs haar staan dominee Stef van Staden.
Hy kom nader en trek haar teen hom vas. “Hartlik geluk met ‘n baie spesiale verjaarsdag nooi.” En daar soen hy haar voor almal, kaplaks op die mond.
Girlie se beentjies skop styf en sy klap spontaan met die hande en almal val in. Toe sing sy: La ons kyn vi Esu met ‘n helse gans. En niemand lag nie, almal sing saam.
Waarna hulle oorslaan na Happy Birthday to you…
Vir ‘n oomblik dink Tilja, o aarde, ek moes eintlik eerste ding vanoggend daardie koek gaan koop het. Wat nie nodig blyk te wees nie. Die eetkamertafel is gelaai met soet en sout.
Sy draai na Maria: “En het jy en my pa geweet?”
“Ja die Moruti hy ons gesê.”
“Pa ook?”
“Mar hy eers gevorsjeet, maar die Moruti hom gebel toe ons ousus en Ma gebad het. Die hy nou lyk soos oudsteling.”
“Hoe op die aarde het jy geweet waar om al my vriende en vriendinne in die hande te kry, Stef?” Tilja se voete is nog steeds onder haar uit, terwyl sy en Stef en Maria, die sitkamer aan die kant maak, nadat al die gaste teen eenuur vertrek het.
“Ek het ‘n vreeslike ding gedoen, Woensdagaand,” bieg Stef. “Terwyl jy jou ma en Girlie in die bed gaan sit het, het ek en jou pa deur jou selfoon gewerk. Hy het vir my gesê watter van die mense soms hier by julle kom kuier.”
“My maggies Stef. Dit is so … kosbaar.”
“Ek het nog ‘n vreesliker en selfs erger ding gedoen. Hy lyk soos 'n stout seun, wanneer hy verder bieg. “Ek het ‘n toer bespreek… Portugal toe en die deposito betaal.”
“Wanneer gaan jy?”
“Ons, Tilja… Augustusmaand. Vir meneer en mevrou van Staden…”
“Maar ek het nie ‘n paspoort nie en al my goeters is onder Ferreira. Moet jy nie maar erken dat ons nie getroud is nie, of sal die sonde te groot wees?”
“Daar sal nie sonde wees nie, Tilja. Ek wil met jou trou voor die tyd. Gou… sommer binnekort. En dan moet ons jou paspoort en papiere regkry. Gelukkig het ek ‘n kontak by Binnelandse sake.”
“Stef? Jy wil wat?”
“Trou, Tilja,” herhaal hy dit afgemete en vat haar hand. “Sal jy asseblief met my trou?”
“My pa, my ma, my suster…” sug Tilja en sak op een van die eetkamerstoele af.
“Sê net eers ja, voordat my hart in stukke op die mat breek,” vra Stef mooi en sak op sy knieë voor haar af.
Tilja vou sy gesig in haar hande en buk vooroor om hom te soen, waarna sy fluister: “Wil jy regtig met my trou?”
“Ja, Tilja.”
En daar skop haar verstand in. Wie gaan na haar mense kyk as sy wegflenter Portugal toe… vir haar honeymoon.
Boonop is daar ‘n duisend en een probleme wat oplossings moet kry. Soos…
En sy begin giggel. “Waar gaan ons bly, Stef? Ek en Girlie deel ‘n kamer.”
“Is daar ‘n plek vir ‘n dubbelbed in daardie kamer?” vra hy sedig.
En dit is die oomblik waarop Pa instap. Hy vra in sy skoolhoof stem: “Wat is hier aan die gang? Stef, hoekom staan jy op jou knieë voor Tilja?”
Stef steun effens terwyl hy orent kom: “Piet… oom Piet, ek wil met Tilja trou. En ék wil haar Portugal toe neem vir ons wittebrood. Nie saam met ‘n toergroep nie. Ek en sy alleen," sê Stef. “Mag ek oom se seën hiervoor vra?”
Haar pa ruk asof iemand hom ‘n klap gegee het en toe word sy gesig spierwit van woede en hy antwoord: “Nee Stef. Jammer. En nou is dit vir my duidelik hoe agterbaks jy eintlik is. Dit nooit om die hondjie nie, maar om die halsbandjie? Jy was hier vir Tilja. Skaam jou. Trap uit my huis en moet nie weer jou voete hier sit nie. Wat jy nou besig is om te doen is om my huisgesin op te breek?”
Slot Hoofstuk 8
Tilja se pa Piet sê vir Stef so sleg dat die see hom nooit weer sal afwas nie. Hy jaag hom boonop weg op die middag van haar verjaarsdag. Hoekom? Omdat hy haar gevra het om met hom te trou.
In haar agterkop weet Tilja dat dit waarskynlik eintlik uit vrees is. Hy is in ‘n gemaksone waar sy alles vir hulle doen. Wat word van hom en ma en Girlie as Tilja trou en by ‘n man gaan woon.
Nadat haar pa se teen Stef uitgevaar het, bly hy staan. Stef laat hom nie wegjaag nie, want hy weet waarskynlik ook waar pa Piet se tirade vandaan kom.
Hy laat hom ook nie valslik beskuldig nie.
“Piet, ek het gereeld by jou en jou gesin kom besoek aflê omdat jy een van my oudste gemeentelede is en ek was jammer en bekommerd was omdat julle dit nie te maklik het met ‘n gestremde volwasse kind nie. En daarna jou vrou se beroerte. Natuurlik het ek Tilja begin raaksien en lief leer kry eers oor wat sy doen en nou vir wie sy is. Ek het self ‘n vrou gehad wat drie jaar lank bedlêend was en versorg moes word. Ek weet wat dit van ‘n mens verg en ek was eers jammer vir Tilja, toe begin ek haar bewonder en nou is sy vir my ‘n toonbeeld van naasteliefde en uithouvermoeë…”
Pa wil iets sê, maar Stef laat hom ook nie in die rede val nie.
“Ootr my vrou... Vir ‘n jaar lank het ek, my oudste dogter en die huishulp self na haar gekyk. Maar toe al drie my kinders hulle verskillende rigtings neem, het ek besef dat ek haar iewers moet laat opneem… Een mens kan nie, Piet. Kry hulp vir Tilja, mense wat kan aflos, sodat sy ook ‘n lewe kan hê.”
“En dit is wat jy nou hier wil doen. My en die res uit die pad kry, sodat jy en Tilja kan baljaar met al my goed.”
“Ek wil nie jou goed hê nie, Piet!” raas Stef. Hy draai na Tilja. "Ek is so jammer dat die hele sak patats en troukwessie nou op so onromantiese wyse moes uitkom. Ek sou jou graag oor 'n lekker bordjie kos en by kerslig wou vra, maar jy kon nie vanaand saam met my uitgaan nie."
"Dis onbehoorlik dominee Van Staden. Jou vrou is nog nie eens koud en drie jaar in haar graf nie," vlieg Pa hom in.
"My vrou is veras, oom Piet. Dit was eers baie warm. Maar nou is dit kouer as ooit, want die as is by Kaappunt in die see gestort."
"Ek het nie hierdie soort disrespek vir die dooies van jou verwag nie, Stef. Ek sal dit met die kerkraad moet opneem."
"Nee Oom, dit is onrespekvol nie. Ek my oorlede vrou het dikwels met mekaar daaroor gespot oor wanneer een van ons eerste gaan, waar die as moet gaan. Sy wou see toe, ek wil bos toe. Sy het 'n wonderlike sin vir humor gehad. Sy sou nou heerlik saamgelag het as sy nog hier was." Hy draai weer na Tilja. "Is dit reg, mooi vrou? Sal jy oor ‘n maand met my trou en as my vrou saamgaan?"
"Pa?" Hy moet eers ja sê. Sy kan tog nie so iets sonder sy seën doen nie.
"Oor my dooie liggaam ..." brom pa gekwets. “Ek sterf eerder as om ja te sê.”
"Tilja?" vra Stef dringend.
"As my pa nie sy seën gee nie ... dan kan ek nie." Iets in haar breek in stukke. “Pa, asseblief…”
"Op hierdie ouderdom en dit met dominee Stef. Dat die liste van die vlees en die hel julle so moet pak. Ek het gesien hoe vry julle daar by die kar.”
“Dit was net ‘n soen!” roep sy uit.
“Mm, dan ken jy darem nog die verskil. Nee Til, jy ken die antwoord," raas haar pa.
"Oom Piet, jy is nie nou redelik nie. Dit sal niks van julle lewenskwaliteit wegneem as ek en Tilja trou nie."
“Nie? Nou waar beplan julle om te gaan bly?”
“Ek weet nog nie oom Piet. Ek het ‘n huis in die Laeveld wat ek nog uithuur. Eendag na aftrede sal ek graag daarnatoe trek, met Tilja. Maar ek is nog betrokke by die kerk. Tot dan sal ek seker aanbly in die pastorie… Of nee, weet jy wat. Die kerkraad het nog ‘n predikant beroep. Hy kan die pastorie kry. En my kinders moet die meubels kom haal, dit wat hulle wil hê. Dan moet Tilja besluit oor die res.”
"En intussen? Dan trek jy by Til in mý huis in?" Haar pa raak by die oomblik meer omgekrap. “Wat sê ek vir my ordentlike vriende?”
"Nee dankie Oom. Dan trek ek en my aanstaande vrou in ‘n klein dupleks in totdat my pligte by die gemeente oor vier jaar uitstryk.” En daar sien Tilja vir die eerste keer vir Stef werklik omgekrap. “Ek soek nie jou goed en jou huis nie. Wat van jy verkoop julle reuse yskoue kasarm en al jou kosbare aardse besittings en sorg dat jy, jou vrou en gestremde dogter die nodige versorging van opgeleide mense kry. Niks wat jy hier het gaan eendag aan daai kant saakmaak nie."
Stef draai om. Hy is ook kwaad en seergemaak. Miskien het hy sowaar gedink dat haar pa saam met hom gaan bly wees… Duidelik ken hy nog nie vir Piet Fereirra nie.
Tilja draai om en vlieg blindweg by die voordeur uit en toe ook sommer straataf.
Soos wat sy nou voel sal sy aanhou stap totdat haar bene eendag onder haar padgee en sy bly lê. Sy het nie meer antwoorde nie. Mag sy dalk vra vir 'n wonderwerk?
"Here asseblief!" Sy gooi haar hande in die lug. "Kom haal my dan liewer nou, as die geluk saam met Stef my nie beskore is nie."
Eintlik is die enigste seën waarvoor sy behoort te vra, nie dié van haar aardse pa nie, maar haar Hemelse Vader s’n, dring dit tot haar deur. “Help asseblief. En as dit U wil is dat ek en Stef dan man en vrou word, maak dit net so bietjie makliker. Maar natuurlik, as daar 'n ander pad is wat U wil hê ek moet stap, wys dit dan vir my. Anders, kom haal my. Sommer nou. Want vir hierdie huis en die omstandighede sien ek nie meer kans nie, My kruis is te swaar."
En toe gebeur dit. Wat die lorrie op daardie stadium in hierdie stil straatjie kom soek het, weet net die drywer alleen. Agter haar hoor sy Stef se uitroep. Sy hoor die doef meer as wat sy pyn voel en toe word dit swart voor haar.
Daar is 'n donker tonnel en hoe vêrder sy beweeg, hoe helderder skyn 'n lig aan die einde daarvan. Is dit die antwoord? Haar reis is na die ewigheid. Die hiernamaals. En nog nooit het sy soveel berusting en vrede ervaar nie.
Sy hoor ‘n hemelse koor wat sing: Laat ons skyn vir Jesus…
"Ons gaan haar vir ten minste tien dae hier hou," hoor Tilja iemand se stem naby haar.
“Ja dokter, doen dit, want die eerste ding wat sy gaan doen as sy by die huis kom is om mense uit rolstoele te haal en in beddens te tel.” Dit is Stef se stem.
“Sy kan nie, daardie sleutelbeen moet eers behoorlik aangroei en selfs dan mag nooit weer swaar goed optel nie.”
Is Stef dan ook hiér? wonder sy geskok. Wat het gebeur? Het iets oor albei van hulle gery? Maar as dit die geval is, wil sy nie net vir twee weke hier bly nie. Sy wil verkieslik nie weer teruggaan nie.
Maar dan word dit seer. Haar kop, skouer en arm vertel vir haar dat sy een of ander noue ontkoming gehad het. Dan het daardie vragmotor haar seker getref.
"Sy is by. Hoe voel jy?" Die dokter ondersoek haar vinnig en toe stap hy uit.
"Tilja, maggies," fluister Stef skor en gryp die hand wat aan die arm en skouer wat minder seer moet wees, vas. "Jy het my verskriklik groot laat skrik. Ek hoop nie jy het aspris voor daardie lorrie ingeloop nie."
Hy soen haar op die voorkop.
“Natuurlik nie. Die lorrie het uit die lug geval. Of dalk het Hy die lorrie gestuur, want ek het gevra…” Sy is nog ‘n bietjie deurmekaar. Dinge maak steeds nie sin nie.
"Wat gevra?”
“Vir ‘n oplossing.”
Stef is effens uit fokus, maar haar woorde laat sy gesig nog meer vertrek. Hy sug en vra: “My liefste mensie, hoe voel jy nou?"
"Orraait, dankie Stef." Maar haar stem maak sulke snaakse piepgeluide, wat seker iets anders verraai. Sy voel regtig goor! En toe probeer sy regop sit. "My pa-hulle. Ek moet gaan kook ... dink ek. Of is Maria daar?"
“Ja Maria is daar en nog ‘n oppasser. En mense wat help inpak. Dit is al Maandag.”
“Inpak? Waar gaan ons heen? Hoe lank gelede was dit? Hoe lank lê ek al hier? En is ek ook nou gestrem?" wonder sy geskok.
"Van Vrydag af. Jou verjaarsdag. Hulle het jou in ‘n geïndosseerde koma gehou. Jy het nogal ‘n harde hou teen die kop weg. Ek is verbaas dat jy dadelik onthou wie ek is…”
“Al onthou ek niemand anders nie… sal ek jou altyd wil onthou. Want ek het so lief vir jou geword. Jy is… se amazing,” sug sy en begin huil.
“Nee, jy is, Moenie huil nie, Tilja.” Stef druk die klokkie en toe gaan sit hy op ‘n stoel by haar en vryf met sy een hand oor haar hare, terwyl hy haar ander hand steeds vashou.
“Is alles reg hier?” vra die suster.
“Nou huil sy…” Daar is ‘n paniekerige klank in Stef se stem.
“Dit is normaal na wat sy deur is. Jy sou ook gehuil het as jy vir drie dae in 'n koma was en iemand ontstel jou. Bly asseblief net kalm ter wille van die pasiënt…” sê sy.
“Ek moet by die huis kom…” Tilja probeer regop kom, maar dieopyn skree deur haar fondamente.
“Onder geen omstandighede nie…” Die suster is by en druk haar teen die kussing terug.
“O aarde, my arme pa het hom seker morsdood geskrik.”
“Ja, darem net halfpad morsdood,” lag Stef. “Want hy is nog met ons en hy maak planne.”
“Dan is hy seker vreeslik kwaad vir my.”
“Glad nie. Hy was vreeslik bly toe ek hom netnou gebel het en gesê het dat jy stadig maar seker besig is om by te kom en die dokter glo dat jy oukei gaan wees. En hy sal nog blyer wees as jy netnou self vir hom bel en met hom praat.”
“Siestog, ek sal Stef. Ai ek is so jammer.”
“Ek ook jy weet, maar eintlik is dit dalk presies die soort ding is wat jou pa nodig gehad het om uit sy gemaksone te kom. Die beste nuus is. Hy het klaar geteken vir daardie kamers in die versorgingseenheid en verder het hy vir ‘n eiendomsagent alleenmandaat gegee om julle huis te verkoop."
"Wat het hom oortuig om dít te doen?"
"Seker skok. Hy het gedink as hy nou nog ‘n dogter het wat sorg nodig het, moet hy dalk vir julle almal ‘n plekkie in daardie oord kry, Bymekaar. Behalwe dat hy gesê het as jy oukei uit hierdie ding kom, kan ek jou maar trou.”
"Passing the buck,” spot sy. En auch, want haar kop en arm is deksels seer, hoor.
Stef lui weer die klokkie.
“Wat nou?”vra die suster.
“Sy het pyn.”
“Daar is pynmedikasie in die drip.” Sy frons diep, toe vra sy mooi. “Meneer, dink jy nie maar jy moet ‘n slag huis toe gaan en daar bly nie? Jou vrou sal orraait wees.”
“Later, Ek en Tilja het baie om te bespreek…”
“Wat is belangriker as jou vrou se gesondheid?”
“Ons troue,” antwoord hy vreeslik ernstig.
“Get real,” raas die vrou en draai op haar hakke om.
Ja, en ernstig, sien Tilja op sy gesig toe hy sê: “Vrydag toe jy by die huis uit hardloop, met my agterna toe bid ek vir ‘n wonderwerk. En daar moet ek aanskou hoe ‘n vragmotor jou raakry en dit is net bloed.” Hy bly ‘n oomblik stil voor hy bieg: “En daar is ek op die plek kwaad. Vir Hóm. Vir dít wat Hy met jou laat gebeur het en jy praat nie met my nie en ek is seker dat jy in my arms gaan sterf.” Sy oë begin swem en daar is Stef in trane. Hy vee vies oor sy gesig. “Maar nou is dit vir my duidelik… dat Hy sy engele gestuur het om in die proses te help. Maar Hy werk anders as wat ons verwag."
"Ek het ook gevra ..." bieg sy. "Nou weet ek dat dit sy seën sal dra. Ja Stef, ek wil baie graag met jou trou."
“Dankie Tilja. Ek is so innig dankbaar dat daar nog ‘n spesiale kans op geluk na my kant toe kom."
En Tilja is net so dankbaar vir ‘n eerste ware groot kans op geluk en dat sy liefde gevind het, al is dit so laat in haar lewe.
Die einde.
Naskrif: Die voordeel om ‘n man vir ‘n predikant te kry… Hy ken ander predikante wat hulle al oor twee weke in die huwelik kan bevestig. Want wie wil dan wag tot die wittebrood as hulle al so opgewonde uitsien om bymekaar te wees. Boonop wag daardie wittebrood vakansuie in Portugal op hulle.
En kampe en rondawels in die Widltuin en Stef se huisie in die Laeveld.



Comments